Wouter de Vos (wyksraadslid) en Aida Ellman-Abrahams (bibliotekaresse) by Mason Pizer (9), wat een van die Playstation-speletjies speel. en Kauther McClune (4) wat ‘n kinderboek deurblaai. FOTO: Carina Roux

Die PD Paulse-biblioteek in Sarepta pronk nou met ‘n nuwe trekpleister vir die jonger garde. ‘n Playstation PS5 met vier konsoles en vyf rekenaarspeletjies is met geld wat uit die wyksbegroting aan die biblioteek toegewys is, gekoop. Wouter de Vos, die wykraadslid, het die toerusting verlede week aan die biblioteek oorhandig.

“My wykstoelae vir die biblioteke is iets waaroor ek nogal sterk voel,” sê De Vos. Hoe die geld aangewend word, laat hy aan die biblioteek se personeel oor.

“Dit help nie ek besluit van my kant af wat by die biblioteek moet kom nie. Hulle moet self sê wat die behoefte is – niemand weet beter as hulle nie,” sê De Vos.

“As die raadslid geld toewys, dan maak ons goed gebruik daarvan,” sê Aida Elman-Abrahams, die hoofbibliotekaresse.

Speel

Die biblioteek bied elke Donderdagmiddag ‘n geleentheid (games afternoon) vir kinders om speletjies te speel. Tot dusver was dit meestal bordspeletjies, maar nou is dit ook die Playstation wat vir seker belangstelling gaan lok. “Die jongspan sal nou lekker kan kom speel,” sê Elman-Abrahams.

Sy vertel hulle kon aanvanklik net drie speletjies kies (buiten die eenheid en konsoles) met die beskikbare geld (R30 000), maar aangesien hulle fokus op kinders is, het die verskaffer toe speletjies wat beter vir kinders (en meer bekostigbaar) is, aanbeveel. “Nou het ons vyf – ‘n goeie verskeidenheid.”

Dit sluit onder meer ‘n basketbalspeletjie, Lego Minecraft en Astro Bot, ‘n gewilde ruimtespeletjie vir jonger kinders (sewe jaar en ouer) in. Twee van die speletjies wat aangeskaf is, kan deur vier spelers op ‘n keer gespeel word.

“Ons het vier konsoles. Ons kon ekstras koop. Die geld het dit moontlik gemaak.”

Elman-Abrahams vermoed PD Paulse is die enigste biblioteek in die streek (van Kuilsrivier tot Strand) wat ‘n PS5 het.

“Ons het vir die volgende boekjaar se wykstoelae klaar besluit R30 000 gaan vir boeke vir volwassenes, omdat dit ‘n bietjie duurder is, en R20 000 vir kinderboeke. Omdat ons reekse koop, is dit beter vir ons om ekstra geld te kry om die reeks te koop. Die geld wat ons van die Stad self kry (boekbegroting) is so min en die geld word opgedeel in kategorieë waarin jy moet koop, maar die geld wat ons van die raadslid (wykstoelae) kry is free flow – ons kan koop wat ons baie graag wil koop, en dit help baie. Ons sê baie dankie!”

Wouter de Vos, wyksraadslid (tweede van links) het verlede week die Playstation en vyf speletjies geskik vir kinders sewe jaar en ouer aan die biblioteek oorhandig. Die personeellede van die biblioteek is van links: Luther Jantjies, Aida Ellman-Abrahams, Ronelda Maree en Nathasha Morris. FOTO:Carina Roux

You need to be Logged In to leave a comment.