’n Man wat as ’n prokureur by die Kuilsrivier-landdroshof aangemeld het, is gister (Dinsdag 4 Junie) aan die verkeerde kant van die gereg betrap toe dagga en Mandrax in sy besit gevind is.
AO Liesel Beukes, plaaslike polisiewoordvoerder, sê ’n sekuriteitswag by die hof se ingang het die man, wat gesê het hy is daar as prokureur om ’n kliënt in die hof te verteenwoordig, voorgekeer omdat hy twee verdagte pakkies, toegedraai in kleefplastiek, by hom gehad het.
Die wag het ’n polisiebeampte wat op diens by die hof was gevra om ondersoek in te stel.
Die polisiebeampte het die verdagte pakkies in die teenwoordigheid van die sekuriteitswag en die verdagte oopgemaak en op 79 klein plastieksakkies met dagga en 100 Mandrax-tablette wat in papier toegedraai was, afgekom.
Beukes kon nie bevestig of die man wel ’n prokureur is of was nie en of hy hom net as een voorgedoen het nie. Die saak word verder deur die provinsiale speurdiens ondersoek.
Die 41-jarige man is in aanhouding en sal môre (Donderdag 6 Junie) op aanklag van die besit van dwelms in die Kuilsrivier-landdroshof verskyn, sê Beukes.


