’n Man van Ravensmead wat Suid-Afrika eersdaags in netbal in Botswana gaan verteenwoordig, sê dit was nie altyd maklik nie, maar hy het deurgedruk en pluk nou die vrugte.
Gavin Peters gaan Suid-Afrika in Desember by die Afrika-netbal-kampioenskap in Botswana verteenwoordig.
“Ek was bitter jonk toe ek begin netbal speel het. Ek het in Ravensmead saam met my vriendinne begin speel. Reeds as jong seun het ek vir hulle gesê ek gaan eendag vir Suid-Afrika speel, maar hulle het gelag en gesê ek sal dit nooit maak nie, want mans kan nie netbal speel nie.
“My antwoord was dat mans in ander lande netbal speel en toe ek bereik wat ek bereik het, kon hulle dit nie glo nie.
“Van ons groep vriende is ek die eerste een wat so ver gekom het, want ander het al opgegee. My ma was ook ’n netbal-speler en ek het altyd saam met haar na wedstryde gegaan,” sê Peters.
Peters, wat homself as ’n “mense-mens” beskryf, sê dit is uiters uitdagend om die sport te beoefen. “Ek gee nie om om hard te werk om fiks te bly nie, maar een van die uitdagings – nie net vir my nie, maar vir ander spelers ook, is geld. Daar is min borge, so spelers moet maar uit hul eie sakke betaal, maar ons druk deur. Ek probeer nooit opgee wanneer ek iets aanpak nie. Dit het my tien jaar geneem om my nasionale kleure te verwerf,” sê Peters.
Hy sê daar is so baie mense wat hom gehelp het tot waar hy nou is. “So baie mense ondersteun my op my reis. My afrigter is ook die een wat my druk om harder te werk en daarvoor is ek dankbaar. Ek gaan my beste probeer en nog harder werk om in die Suid-Afrikaanse span te bly. Dit was my droom om tot hier te kom en daarvoor sal ek bly veg. Ek gaan my beste lewer in Botswana om my land trots te maak,” sê Peters.