Die reusestingel wat skielik uit die niet uit die Meksikaanse plant, ’n soort gareboom, van ’n egpaar van Durbanville gegroei en nou begin blom het, het verbygangers aan die gons.
Alwyn en Ella Muller, albei 80 jaar oud en van Monacostraat in Uitzicht, het sedert TygerBurger in Mei daaroor berig het, dié snelgroeiende stingel vir ses maande elke dag fyn dopgehou “om te sien wat sy plan is”. (“Tequila-plant gesog en duur”, 9/05/18).
Volgens Muller het die stingel van die plant met die spesienaam Agave Americana ongeveer 5,2m uit die plant gegroei teen sowat 300mm per week. Die stingel het begin Oktober aan die bokant begin oopbars en blommetrosse het daaruit begin groei.
Die plant kan tussen 20 tot 25 jaar neem om te blom – vandaar die volksnaam century plant.
Toe TygerBurger verlede Dinsdag die plant gaan besigtig het, het die stingel reeds 7,2m vanaf die grond gemeet.
Volgens Muller ontketen dié plant talle vrae van bure en verbygangers. Motoriste ry dikwels stadiger verby hul huis om dié plant beter te aanskou, sê hy. Hy het ook al selfs een van die ander, kleiner Agape-plante in sy tuin verkoop.
Volgens die webblad www.newworldencyclopedia.org en www.britannica.com blom die plant slegs een keer.
Dié blomvertoning is egter ongelukkig ook die plant se swanesang – die plant is monokarpies en sterf kort nadat dit geblom het. Klein plantjies vorm egter aan die basis van die plant, wat die voortbestaan van die plantsoort verseker.
Volgens Muller is dié reuseplant die afstammeling van een van twee Agave-plante wat hulle 10 jaar gelede uit hul tuin in Parys in die Vrystaat saamgebring en hier kom plant het.
Bronwynn Classen van Stodels-kwekery in Bellville, het gesê die plant word ook dikwels die Agave Mexicano genoem weens sy oorsprong van Meksiko.





