Die Wes-Kaapse provinsiale rampbestuursentrum in Goodwood is bekroon met silwer by die 77ste jaarlikse Batho Pele Excellence-toekennings in die kategorie vir beste responsiewe regeringsinstelling van die jaar 2021/2022.
Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, sê in ’n mediaverklaring die toekenning en erkenning is welverdiend.
“Die rampbestuurspan, as deel van die departement van plaaslike regering, het homself bewys as van onskatbare waarde vir die Wes-Kaap.”
“Die werk wat hulle elke jaar met veldbrande doen, is van ’n internasionale standaard. Met ’n rekord om 90% van aangemelde brande te blus binne die eerste uur nadat dit aangemeld is, stel dit die standaard in Suid-Afrika.”
Die rampbestuursentrum het ook ’n deurslaggewende rol gespeel in die provinsie se strategie met betrekking tot die droogte in 2017/18, en nou met die Covid-19-pandemie.
“Die rampbestuursentrum het die vaardighede en hulpbronne om baie vinnig op te tree, en is ewe belangrik in sy vermoë om te koördineer en positiewe samewerking tussen ’n diverse reeks belanghebbendes te kry,” het Bredell gesê.
Graham Paulse, hoof van die departement van plaaslike regering, het die toekenning beskryf as ’n merkwaardige oorwinning vir plaaslike regering en die gemeenskappe wat dit dien.
Paulse het gesê hierdie erkenning is simbolies van die sterkte van die span en sy toewyding. Hy meen “hierdie oorwinning erken die doeltreffendheid van die rampbestuursentrum en die impak wat dit op die lewens van so baie gemaak het. Dit erken die impak wat deur plaaslike regering gemaak word en verwesenlik wat dit beteken om mense eerste te stel.”
“Dit kan gesien word in die uitstaande pogings en gereedheid wat nodig is om die Covid-19-pandemie te bestuur – soos gedemonstreer deur die sentrum se vermoë om die ingewikkeldhede betrokke by die logistieke koördinasie en institusionele strukture te bestuur. Die sentrum het gedien as ’n kanaal vir ’n geïntegreerde benadering, wat hulpbronne en belanghebbendes saamgetrek het om uiteindelik ’n effektiewe reaksie en herstel na die pandemie te koördineer,” het hy gesê.
Colin Deiner, hoof van die rampbestuursentrum, het gesê die toekenning is ’n geregverdigde erkenning vir die hele span se harde werk en toewyding.
“Ons spandeer baie tyd om te beplan hoe om potensiële situasies te hanteer sodat ons vinnig en op gekoördineerde wyse kan optree wanneer slegte dinge gebeur,” het Deiner gesê.
Deiner het gesê die Wes-Kaapse provinsiale rampbestuursentrum is bekend vir sy rol in die koördinering van veldbrande, maar dit is betrokke by ’n baie uiteenlopende reeks aktiwiteite. Hy het gesê die kernkrag van die bestuursentrum is sy vermoë om verhoudings te skep en hulpbronne te benut deur samewerking van rolspelers in die privaat en openbare sektor. “Ons is eenvoudig sterker as ons almal saamwerk,” het hy gesê. Tans help die rampbestuursentrum die departement van landbou met die sprinkaanplaag.

