Met net ’n maand voor die veldtog vir die plaaslike verkiesings in 2026 in Wyk 8 begin, het Marian Nieuwoudt, wyksraadslid en voorsitter van Subraad 2, vrywilligers Vrydag toegespreek oor die samestelling van die nuwe regering van nasionale eenheid.
By ’n ete by Die Rusoor vir die vrywilligers wat in die afgelope verkiesing by stemstasies gewerk het, het Nieuwoudt die groep bedank vir hul harde werk tydens die verkiesing “wat ’n keerpunt in die land se toekoms teweeg gebring het, en ook gesorg het vir ’n rekord-opkoms van 80% in Wyk 8”.
Sy het ook haar hoop uitgespreek dat toekomstige onderhandelings tussen die onderskeie partye sukses sal afwerp. Die uitslae van die verkiesing, sê sy, was van so ’n aard dat daar geen ander alternatief vir die DA en ANC was as om saam te werk nie. Sy is van mening dit was manmoedig vir beide die partye om ná hul sterk veldtogte te besluit om saam te werk om Suid-Afrika te red.
“Ek glo dit was die regte uitslag vir ons tyd. Daar is nie ’n party in die land wat perfek is nie, daarom moet die partye met mekaar praat en hul trots by die huis los in belang van die land,” sê sy.
“Onderhandelings in die politiek is soos ’n vissersbootjie op die see. Dit wieg heen en weer op die see … as landsburgers moet ons geduldig wees en kalm bly. Dinge gaan nie in net vyf jaar se tyd hemel op aarde wees nie.”
Burgerlike betrokkenheid
Benewens dit het sy die belangrikheid van burgerlike betrokkenheid in die land se politiek benadruk.
“Noudat dié verkiesing verby is, lê die harde werk voor. Binne hul gesinne moet landsburgers hul politieke kennis opskerp deur te leer wat die verskeie partye se manifeste bepaal, en hoe dit verskeie provinsies in die land affekteer.
“Met ekonomiese groei, en geld in die koffers, sal die Kaap met die plaaslike verkiesing in 2026 die mees gesogte rooi appel in die mandjie wees,” meen sy.
“Dis ons verantwoordelikheid, en ons moet ophou om onsself te laat versplinter. Dit is die enigste manier hoe ons die wa in 2026 deur die drif gaan trek.”
“As die oudste stad in die land moet die infrastruktuur in Kaapstad vernuwe word, maar daarvoor is geld nodig uit ’n gemeenskap wat lankal reeds hul besteebare inkomsteplafon bereik het.
“Alles is nie perfek nie, maar ons werk hard en hoop om teen 2026 splinternuwe oorhoofse infrastruktuur te hê,” sê Nieuwoudt.
Sy het ’n beroep gedoen op gemeenskappe om aktief te begin betrokke raak in plaaslike regeringsake om sodoende realistiese verwagtinge te skep. “Jy is besig om Suid-Afrika se geskiedenis te skryf,” sê sy.


