R4,6 m se onwettige sigarette in die Bellville-middestad gevind

Die owerhede het verlede week op hierdie bokse sigarette beslag gelê.

Credit: SYSTEM

Groot opwinding het verlede Donderdag in die Bellville-middestad geheers toe nuuskieriges toegekyk het hoe die owerhede op onwettige sigarette van ongeveer R4,6 miljoen beslag lê.

Wetstoepassings- en polisiebeamptes het omstreeks 09:00 vyf persele in die gebied besoek, waar hulle 231 bokse onwettige sigarette gekry het, sê Ruth Solomons, metropolisie-woordvoerder.

Die sigarette is polisiekantoor toe geneem en drie mense van onderskeidelik 19, 32 en 25 jaar is in hegtenis geneem.

Die groep Tax Justice SA (TJSA) sê hulle verwelkom die klopjag en hoop soortgelykes sal oor die land heen plaasvind.

“Dis ’n deurbraak om uiteindelik te sien hoe (polisie)beamptes die wet toepas deur op honderdduisende rande se sigarette beslag te lê, wat teen ’n prys verkoop word wat wys dat belasting nie betaal word nie,” sê Yusuf Abramjee van die organisasie.

Die sigarette sluit handelsmerke van onder meer Remington Gold en Chicago (albei gemaak deur Gold Leaf Tobacco Corporation) en JFK, VIP, Shasha en Mega (almal gemaak deur Adriano Mazzotti’s Carnilinx) in.

Boonop het polisiebeamptes handgeskrewe notas op die toneel gekry, waarin bewys word dat sigarette vir so min as R7 verkoop word, hoewel die minimumbelasting op ’n pakkie tans R22,79 is.

Abramjee sê die onwettige sigaretmark beroof Suid-Afrikaners van sowat R19 miljard se inkomste per jaar.

“Hierdie onwettighede gaan reg oor die land aan en omtrent niks word daaraan gedoen nie. Dit beroof die land van noodsaaklike inkomste en bedreig wettige besighede se voortbestaan,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article