Terwyl die wêreld onlangs ingeskakel het om te kyk hoe Koning Charles van Engeland gekroon word, was daar duisende kilometer verder ’n jolige affêre in Eersterivier in Kaapstad.
Hierdie affêre is aangebied deur die Queen Mother van Yellowwoodweg, oftewel Queen Mother Nana, ook bekend as Cheslan Loggenberg. Nana, soos Cheslan alombekend is, het vir die geleentheid van die kroning “opgedress” en gaste oorgenooi.
Vir dié spesiale geleentheid het Nana spesiaal ’n rok laat maak. Nou waar kom die fassinering met die Britse koningshuis vandaan?
“My liefde vir die koninklikes kom al van kleins af. Ek was so ses of so, dan het ek heeltyd met Christmas-papierkrone op en af geloop, met ’n stok in die hand. Ek is mal oor die pomp en ceremony, die precision waarmee alles gedoen word en ook die ryk geskiedenis van die Britse monargie en hoe alles meer as 1 000 jaar gelede gebeur het,” sê sy.
Nana laat nie een geleentheid verbygaan om haar liefde vir die koninklikes te wys nie. “Daar is so min groot gebeurtenisse, maar soos met die troues van William en Harry, kom my naaste en royalist vriende bymekaar. Ons maak English based snacks soos cucumber sandwiches, scones with strawberry preserve en whipped cream, little cupcakes en alles vir ’n high tea, dress dan op en sit vasgenael voor die televisie. Met Philip en Lizzie se begrafnis was ek alleen. Die hele week was ek in swart gedress. Nadia Block Couture is my persoonlike ontwerper wat elke uitrusting vir my maak. Sy het my rok vier weke voor die coronation tot op die fynste detail gemaak. Sy het ook my mourning gown gemaak wat ek aangehad het met die begrafnis van my liefste Queen Elizabeth II,” sê Nana.
Sy laat geen twyfel wie haar gunsteling-koninklike is nie.
“My gunsteling was natuurlik Queen Elizabeth II; haar statige, geheimsinnige persoonlikheid het haar na my aangetrek – haar manier om enigeen om haar te laat voel asof hulle ’n persoonlike connection met haar het. Ek leer nog om aanklank te vind by Charles en Camilla. Ek dink hulle is gemaak vir mekaar, so ons kyk maar,” sê Nana.
Die mense in haar sirkel ondersteun haar ten volle.
“Ek moet sê my vriende verstaan my 100% as ek begin praat van royals, veral diegene wat nie royalist is soos ek nie. My TikTok-vriende verstaan ook as ek begin aangaan oor die royals. My familie ondersteun my net so. My man, Cameron, noem ek my Prince Consort, soos Victoria haar geliefde Albert genoem het. My oudste dogter, Alexa, sê ek is te behep, maar my jongste Ava is ’n klein royalist in the making. As ek vir Cameron sê I need a new gown, a royal wedding is coming, dan weet hy, she is going all out.”
Nana het ook sterk gevoelens oor Harry en Megan.
“Harry en Megan, ek kan baie oor daai twee sê. Ek voel Harry het die hele Megxit-ding verkeerd gehanteer. Yes, ek verstaan waarvandaan hy kom, maar om sy land en alles wat hy ken te los vir haar … hy het ’n baie diep en seer wig tussen hom en William veroorsaak, wat ek hoop oorbrug kan word. Ek dink Harry mis sy familie en ek is seker hy sou baie graag terug wou wees in Londen.
“Megan het geweet waarvoor sy haar inlaat. Sy het geweet wat die institution is, hoe alles gaan werk. Maar omdat sy al haar social media accounts moes prysgee, dink ek was dit moeilik.
“Suddenly het sy nie meer ’n stem nie, want jou stem kom deur die paleis en jy doen en regeer soos hulle jou sê. Jy behoort nou aan ’n institution en is nie meer iemand wat vrylik iets kan sê soos sy kon nie. Mense dink dit is maklik en ’n lekker lewe om ’n royal te wees, maar hulle het ook maar moeilike, lonely lives. Jy kan nie net gou uitpop winkel toe of Spur toe of net gaan stap nie. Jy is omring met ’n magdom mense, maar is ook diep alleen,” sê Nana, terwyl sy wag vir die volgende royal event.


