Dit voertuig het verskeie kere gerol, deur ’n muur gebars en in die agterplaas van ’n huis langs die pad beland.


’n Saak van strafbare manslag word deur die Brackenfell-polisie ondersoek nadat ’n 42-jarige vrou van dié voorstad Saterdagaand in ’n motorongeluk omgekom het.

Sy was ’n ’n passasier in die voertuig, wat gerol het.

Die ongeluk het omstreeks 19:50 op Kruispad in die rigting van Bottelarypad – naby die Crammix-afdraai in Proteahoogte, plaasgevind.

Cindy Trower, ’n ma van drie dogters, is uit die kar geslinger en was reeds dood toe noodpersoneel op die toneel aangekom het.

Sy is op die toneel dood verklaar.

’n Man (44) van Brackenfell en ’n man (30) van die Vrystaat het die ongeluk oorleef en is per ambulans na ’n nabye hospitaal vervoer.

“Daar word vermoed dat die bestuurder van die voertuig beheer verloor het,” sê kapt. Erica Crous.

Die voertuig, ’n wit Mitsubishi-bakkie, het ’n paar keer gerol en in die agterplaas van ’n huis langs die pad beland.

Medelye uit die gemeenskap het Sondag op sosiale media ingestroom.

In ’n huldeblyk op haar Facebook-blad het ’n familielid, Debbie Niemand Reed, geskryf: “My nig, so word ons net geleen op aarde. God het nog ’n beautiful blommetjie kom haal. Wonderlike mamma, dogter, niggie, vriendin, net een beautifulsoul binne en buite.” Jy is nou in Jesus se hande.”

Die polisie was op die toneel om ondersoek in te stel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article