KUILSRIVIER – Oor die laaste paar jaar was sy snor of baard pienk (of rooi) gekleur vir kankerbewusmaking —vir die vroue. Vanjaar wil Tokkie Matthee van Mabillepark met sy blougekleurde hangsnor egter die aandag op die manne laat val.
Matthee, wat soms ver paaie ry as hy abnormale vrag begelei, vertel hy sien altyd die pienk linte vir borskanker, en bome wat toegedraai is in pienk of rooi lap, maar die blou vir prostaatkankerbewusmaking is selde te sien.




Op 1 November moes die snor blou gekleur word ter ondersteuning van die manne “wat ‘n bietjie skaam is”, sê hy.
Hy het immers self ‘n pad met prostaatkanker gestap.
Matthee het in 2018 begin agterkom iets pla. “Ek het ‘n ongemaklikheid ervaar. In 2019 is hy dokter toe “want dit het toe meer ernstig geraak”. Vroeg in 2020 is aggressiewe prostaatkanker by hom gediagnoseer.
Hy het die dokter gevra wat hy sou doen as die dokter in sy skoene was. “Hy’t gesê hy sou dit uitgehaal het.” Matthee het dadelik besluit om die magtigingsvorm vir die operasie te onderteken.
Dit wat hy met sy eerste besoek aan ‘n uroloog by die Tygerberg-hospitaal gesien het, onthou hy goed. “Daar is mos sulke lang gange. Voor die deur waar jy ingaan na die uroloë sit ons toe — 45 manne en wag.”
Die operasie sou in 2021 plaasvind, maar word toe midde-in die Covid-pandemie uitgestel.
Onsekerheid
Die wagtyd was moeilik en vol onsekerheid.
“‘n Mens is so dom; jy weet nie van die siekte nie. Ek het vir die dokter gevra: ‘Is kanker soos ‘n erdwurm wat loop?’ Hy’t geantwoord: Nee, dit is meer gekonsentreerd op een kol’.
Maar dan hoor jy agterna snaakse goed — van blaaskanker, lewerkanker — ek was bietjie bang waarnatoe versprei hy (die kanker).
In daardie tyd was daar nog vyf mense met kanker in sy nabye omgewing. Een van hulle het gehoor van ‘n “doepa” by ‘n plattelandse koöperasie.
Matthee het besluit om die middel (diere-medisyne) te drink midde-in die onsekerheid omdat hy moes wag vir ‘n plek in die hospitaal. Elke derde dag drie slukkies. Die 200 ml-botteltjie was so pas leeg toe kry hy die oproep dat hy kan kom vir die operasie.
“Twee weke daarna, toe maak als weer toe vir die tweede keer. Toe is ek weer terug op die waglys.”
In 2022 kon hy uiteindelik vir die operasie gaan.
Daarna moes hy 37 keer teruggaan vir bestraling. Toe elke drie maande vir bloedtoetse en later elke ses maande. “In Oktober het die dokter gesê hy is nie tevrede nie, want dit lyk of die telling bietjie geklim het. Ek moet weer in Januarie gaan.”
Toetse
Mans is in die algemeen onkundig oor prostaatkanker en skrikkerig vir die “vingertoets”, sê Matthee. Voordat hy in 2019 vir die fisieke ondersoek gegaan het, is sy bloed al getoets. “Die dokter het gesê die prostaat is groot. Die bloedtoets kon nie sien wat hy gevoel het nie.” Hy is toe na Tygerberg-hospitaal verwys, waar hy gediagnoseer is.
Matthee raai mans aan om eerder dubbel seker te maak en buiten die bloedtoets ook vir die fisieke ondersoek te gaan.
Volgens die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) toets die PSA-bloedtoets hoeveel prostaatspesifieke antigeen (PSA) — ‘n normale ensiem wat deur die prostaatklier vervaardig word — aanwesig is. Hoewel ‘n verhoogde telling op prostaatkanker kan dui, is dit nie altyd so nie.
‘n Normale lesing sluit ook nie kanker uit nie. Daarom word die fisieke ondersoek van die prostaat (via die rektum) ook aanbeveel — veral vir mans ouer as 50 of vroeër vir diegene wat ‘n familiegeskiedenis van prostaat- of borskanker het.
Matthee draf al vir baie jare elke oggend ‘n draai deur die buurt.
“Ek het die dokters uitgevra daaroor, want ek wil hê my gewig moet konstant bly en my bloeddruk en hart moet gesond wees. Hulle het gesê hou aan daarmee — doen jou draffie, groet die mense in die gebied. Dit is goed vir die siel om uit te kom, te kommunikeer; dit maak die gestel baie sterker.”
Vir hom was die operasie die beste keuse. “Ek wil nog leef, my draffie doen, gesond wees, vriende hê en ook vir hulle (hiervan) vertel.”
“Ek dink baie manne voel as die prostaat uit is, is hulle nie meer manlik nie. Dit pla my nie, ek het ‘n vrou en kinders. Ek wil net veilig en gesond wees vir die res van my lewe.”
Sy boodskap aan die manne is om “oor te gee” en toe te laat dat die dokters help. Prostaatkanker hoef nie ‘n doodstraf te wees nie.
En as jy hom raakloop met sy blou snor, knoop gerus ‘n geselsie aan.
* Prostaatkanker is die algemeenste kanker onder mans wêreldwyd en in Suid-Afrika. Volgens die Nasionale Kankerregister (2023) loop een uit 17 mans plaaslik die risiko om dit in hul lewe op te doen.



You must be logged in to post a comment.