Werksgeleenthede en herwinning is die hart van ’n opwindende loodsprojek wat gister amptelik by die Alta du Toitskool vir intellektueel gestremde leerders bekendgestel is.
Danksy ’n drieledige ooreenkoms tussen Job-Abled (’n platform wat gestremdes met werksgeleenthede verbind), Myplas (’n maatskappy wat herwonne plastiek verwerk) en Polyco (’n nie-wingewende organisasie betrokke by herwinning), is die skool nou die basis vir ’n herwinningsprojek.
Marius Erasmus, skoolhoof en direkteur van Job-Abled, sê die projek fokus op werkskepping vir intellektueel gestremdes wat nie die algemene vereistes vir indiensname kan bereik nie.
“Ons leerders kan slegs graad 5-vlak vir spesiale skole haal.”
Erasmus sê uit ’n groep van 30 intellektueel gestremde skoolverlaters sal slegs vyf of ses die ope arbeidsmark kan betree.

Die skool is vir die leerders ’n veilige omgewing en die projek sal hierdie leerders help om die gaping na die arbeidsmark te oorbrug.
Simoné Nel, algemene bestuurder van Job-Abled, sê herwinbare materiaal kan by die hek van die skoolterrein afgelaai word terwyl sakeondernemings wat groot hoeveelhede herwinbare materiaal het, kan versoek dat dit afgehaal word.
“Die projek is vir die Alta du Toitskool se skoolverlaters wat nie amptelike kwalifikasies het nie. Ons lei vier 18-jariges vir ’n jaar lank op, waarna hul dan by Myplas sal begin werk. Die proses sal jaarliks plaasvind,” sê Nel.
Walter Jordaan, ’n direkteur van Myplas, wie eersterangse ervaring het as pa van ’n dogter met serebrale verlamming, sê die maatskappy is baie opgewonde om by die projek betrokke te wees.

Neil Blight, ’n ouer wie se kind by die skool is, het nou ook ’n werk danksy die projek.
Blight het aanvanklik as vrywilliger betrokke geraak. Hy gebruik tans sy eie bakkie om herwinbare materiaal te vervoer, maar hopelik sal die projek ’n geskikte voertuig vir die taak kan bekom, sê Nel.
“Polyco het al die nodige toerusting vir herwinning by die skool verskaf en ook die bekendstelling gereël. Bulkmatech Cape hanteer die instandhouding van die toerusting. Myplas kom laai herwinbare materiaal by die skool op,” sê Nel.
Nel sê wanneer die projek by die Alta du Toitskool vlot loop, wil hulle soortgelyke herwinningsprojekte by nog skole vir leerders met spesiale behoeftes begin.
Behoeftes
- ’n Nuwe of tweedehandse voertuig en sleepwa vir spesifieke gebruik vir die herwinningsprojek om operasionele doeltreffendheid te verseker – ’n bakkie of kleinerige vragmotor wat maklik is om te bestuur is ideaal;
- Trollies vir informele herwinnaars;
- Geldelike bydraes: eenmalig of maandeliks. Sertifikate vir belastingaftrekbare bydraes (18A) kan aangevra word.
Die hoop is dat die gemeenskap die projek sal ondersteun deur herwinbare materiaal in te handig. “Jy dra nie net by tot ’n skoner omgewing nie, maar gee ook terug aan die gemeenskap,” sê Nel.
Herwinbare materiaal soos plastiek (PET, deurskynend, bottels), aluminium, blikkies, papier en karton kan ingehandig word.
- Kontak Nel by gm@jobabled.co.za of die skool by donations@altadutoit.co.za met navrae.



You must be logged in to post a comment.