’n Stukkende bank, matras en ’n houtkas binne-in die probleemgebou in Parow-Wes.


’n Probleemgebou in Mosselstraat, Churchill Estate in Parow-Wes is steeds vir inwoners in dié gebied ’n groot kopseer.

Shakir Smith, voorsitter van die Parow-Wes-buurtwag, het gesê inwoners daar is raadop.

Die gebou behoort aan die nasionale departement van openbare werke en infrastruktuur, maar word glo nie na omgesien nie. TygerBurger het in Oktober, sowel as Desember in 2020, ook oor die betrokke gebou berig.

Haweloses het die gebou betree en volgens inwoners daar word daar glo dwelms gebruik en lawaai gemaak.

Die buurtwag het reeds die plaaslike subraad van die probleemgebou by Mosselstraat 56 in kennis gestel.

In ’n reeks e-posse van Smith aan die Stad Kaapstad en die departement van openbare werke en infrastruktuur beskryf hy hoe die gebou vir ’n geruime tyd lank reeds ’n kwessie vir die gemeenskap is, hoe vervalle die gebou is, en dat dit ook reeds brandskade opgedoen het.

Hy skryf dat die gebou nie meer herstel kan word nie. Smith sê die gebou was ook reeds in die mark, maar dat dit glo nie meer die geval is nie.

Smith skryf verder die gemeenskap versoek dat die gebou in ’n gemeenskapsentrum omskep word.

Hy beweer die gebou dien as ’n skuiling vir voortvlugtiges, diewe, bendes en prostitute. Voorts hou dit ook ’n gesondheidsrisiko in aangesien menslike ontlasting glo op die perseel en in die gebou self voorkom, skryf Smith.

Hy sê as buurtwag het hulle probeer om haweloses uit te hou, maar dat hulle sukkel in dié opsig.

Hy sê daar is oor die afgelope vyf tot ses jaar herhaaldelik oor die gebou gekla. Die buurtwag versoek nou dat die eiendom opgeruim word en dat daar opgetree word teen die mense wat dit onwettig betree.

Rommel lê ook oral gestrooi in die gebou in Mosselstraat, Parow-Wes.

Die huis word glo deur haweloses as skuiling gebruik.

Bettie Burger, nog ’n inwoner wat naby die probleemgebou woon, het aan TygerBurger genoem dat sy ook raadop is en dat die gebou haar lewe versuur.

“Shakir en die buurtwag probeer hul bes om van die haweloses ontslae te raak.

“Dit wil egter voorkom asof iemand hulle waarsku wanneer die sekerheidsmaatskappy of buurtwag in die gebied is,” sê sy.

Sy sê sy vrees dat die stryd tevergeefs is.

Burger het ook reeds e-posse na die departement en die Stad geskryf. Sy beweer haar en haar man se lewens word bedreig.

Jandré Bakker, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke, het bevestig dat die probleemgebou die eiendom is van die nasionale departement van openbare werke en infrastruktuur.

TygerBurger het ná verskeie e-posse nog geen terugvoer van dié departement ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article