Die Hoërskool President dra môre (27 Mei) al hul rugbywedstryde op hul tuisveld op aan oud-leerling Jacques le Roux (21) wat verlede Sondag (21 Mei) oorlede is nadat hy ‘n inbreker agterna gesit het en dié hom na bewering met ‘n mes in die hart gesteek het.
Arthur Reichhardt, President se eerstespan-afrigter, sê Jacques “was ongetwyfeld een van die beste nommer sewe flanke wat die skool ooit gehad het”. Al ons spanne sal ‘n swart band om hul linkerarms dra en ‘n minuut stilte sal gehou word voor elke wedstryd,” sê Reichhardt.
Jacques het in 2012 en 2013 21 wedstyde vir die eerste span gespeel. Hulle beplan ook om ‘n spesiale pet aan Jacques se ma te oorhandig.
Reichhardt vertel hy het Jacques die bynaam “Piet Leeu” gegee, want “hy was soos Piet Muis in persoon – baie bemin, ordentlik, op sy plek en respekvol, (maar) hy het die hart van ‘n leeu gehad – kliphard en bang vir niks.”
Hy sê Jacques was vreesloos en bereid om sy lyf op die spel te sit en soms het hy gewonder hoe kry hy dit reg om manne groter as hy op die veld plat te trek.
Jacques wat vir Goodwood Rugbyklub se eerstespan op flank uitgedraf het, is daar bekend as Elsies. Dié span se spelers sal ook swart armbande dra en ’n minuut stilte hou voor hul wedstryd teen Lagunya môremiddag, het Craig Hale, die span se afrigter, gesê. Hale sê die klub gaan ‘n geraamde trui en ‘n geldelike bydrae aan Jacques se ma by ‘n volgende wedstryd oorhandig.
Daar word Maandag 29 Mei om 12:00 ‘n diens gehou by die Amazing Grace Ministries-kerk in Parow (die ou NG kerk Parow-Oos).
Reichhardt sê President se huidige eerste span en van die oudspelers gaan in die kerk van hul kreet-liedjies sing waarmee hulle volgens tradisie hul rugbyspelers groet.
Goodwood-polisie het bevestig ‘n moordsaak word ondersoek. Die verdagte het te voet gevlug en niemand is nog gearresteer nie. Enigiemand met inligting word gevra om speur konst. Denver Horne by 021 597 1760 te bel.