Praat indien iets pla, maan ouers ná tiener testikulêre kanker kry

Jy hoef nie bang te wees nie en moet beslis nie moed opgee nie, sê ’n tiener (18), wat vir die meeste van die jaar teen kanker baklei het.


Jy hoef nie bang te wees nie en moet beslis nie moed opgee nie, sê ’n tiener (18), wat vir die meeste van die jaar teen kanker baklei het.

En nou wil hy en sy gesin ander aanmoedig om te praat as hulle voel iets is nie pluis nie, veral as dit in ’n ongemaklike plek soos in die testikels is.

Die tiener, Wynand Goosen, wat in die Paarl bly, is in sy vierde jaar aan die Vaardigheidskool Westcliff in Bellville.

Hy is iemand wat klaarblyklik min praat, maar wat geen tekort aan moed het nie, en ’n reuse-ondersteuningstelsel het.

Aan die begin van die jaar het sy ouers, Marleze en Jaco, en sy ouer broer, Tiaan, begin agterkom Wynand ervaar ongemak in sy onderlyf.

“Soos tienerseuns nou maar is, praat hulle nie oor sulke dinge as daar gevra is wat fout is nie,” sê Jaco.

Hulle het egter begin agterkom daar is swelling, veral as Wynand stywer broeke soos ’n denim aangetrek het.

Hulle het Wynand na ’n manlike huisdokter gevat wat hom dadelik na ’n spesialis verwys het, wat hy so gou moontlik moes spreek.

Hul ergste vrese is bewaarheid. Wynand het testikulêre kanker gehad. Hy is kort daarna geopereer.

Die noodoperasie het egter nog slegte nuus meegebring – die kanker het na sy longe en limfkliere versprei.

‘Groot skok’

Die nuus het die familie op verskillende maniere geraak. Tiaan, sy broer, sê hy het net in die kar geklim en gery. “Dit was ’n baie groot skok.” Sy ouers was emosioneel. “Maak nie saak hoe groot of klein jou kind is nie, dit slaan jou hart,” sê Jaco.

Wynand het egter die hele situasie goed hanteer.

“Hy het my net een kyk gegee en gesê: Pappa, dit is oukei, kom ons kry dit agter die rug.”

Wynand moes talle chemoterapie-sessies ondergaan en moes vir maande van die skool wegbly.

Dit vir was die gesin ’n wipwarit van emosies. Dit was ’n slegte tyd, maar daar was ook diepe dankbaarheid vir elke stukkie positiewe nuus wat hulle ontvang het.

“Voor elke chemobehandeling kon begin, moes sy bloed getrek word om die merkers te monitor. Genadiglik het dit elke keer verbeter,” sê Jaco.

In een stadium het hy ’n kiem opgedoen en moes hy vir vyf dae in die hospitaal opgeneem word.

Dit het sy terapie vertraag en beteken hy sou eers later kon klaarkry. Dit was vir hom sleg, erken Wynand.

Hare val uit

Dit was ook sleg toe sy hare weens die chemoterapie begin uitval het. Later het hy als laat afskeer. “Toe hy daar sit en die bietjie hare wat hy nog gehad het, word geskeer, kon ek sien dat hy vrede gemaak het en ek kon nie anders as om saam met hom hartseer te wees nie.”

Jaco het in solidariteit ook sy hare afgeskeer. Maar selfs dit was nie soos in die flieks nie, want syne het gou weer teruggegroei en Wynand s’n het nog vir maande weggebly.

Hy het ook sy vriende gemis en was dikwels baie moeg.

Maar eintlik was Wynand self deur die hele proses baie positief. Dit het dit makliker gemaak om alles een dag op ’n slag te vat.

“ ’n Mens dink mos altyd dit gebeur net met ander mense,” sê Jaco. “Vir ons as gesin was dit ’n moeilike tyd om die nuus te kry dat kanker by ons kind, wat in die fleur van sy lewe is, gediagnoseer is.”

Ná maande van chemoterapie het die goeie nuus uiteindelik in Augustus gekom: Wynand se kanker is in remissie. Hy is weer terug by die skool en gaan dikwels vir ondersoeke om te kyk of iets fout is. Die gesin is nou dankbaar vir elke oomblik.

Hulle voel egter almal dis belangrik om meer openlik te wees oor dinge wat pla. “Mense praat maklik oor borskanker, maar nie eintlik oor testikulêre kanker nie,” sê Marleze. “Moenie bang wees om te praat as jy dink iets is nie soos dit moet wees nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.