Die Brackenfellse polisieman, wat daarvan aangekla is dat hy ’n slagoffer van gesinsgeweld op ’n plaas in Stellenbosch verkrag het terwyl hy aan diens was, is vandeesweek hangende ’n tugondersoek uit die polisie geskors.
Dit volg nadat hy verlede Woensdag (2 Februarie) in die Bluedowns-landdroshof op borgtog van R2 000 vrygelaat is. Terselfdertyd het die slagoffer haar saak teruggetrek vir redes wat in dié stadium onbekend is. Die verdagte se naam is aan TygerBurger bekend, maar word weerhou omdat hy nog nie in die hof op die aanklag gepleit het nie.
Volgens sy prokureur, Luzoko Guma, het die verdagte in aanhouding baie siek geword weens ’n mediese toestand. Guma het ook in die hof aangevoer dat die verdagte die hoofbroodwinner vir ’n gesin van vyf is. Hy het gevra dat sy kliënt op R1 000 borgtog vrygelaat word.
Die staat het ’n brief van die Brackenfell-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in die hof voorgelees as redes om Mphoki op ’n hoër borgbedrag van R2 000 vry te laat.
Werner Victor, voorsitter van die GPF, sê die feit dat die aangeklaagde polisieman op borgtog van R2 000 vrygelaat is, is ’n sensitiewe kwessie vir iedere en elke lid van die gemeenskap. “Elkeen sal sy eie mening daaroor kon uitspreek. Dit is egter ’n aspek wat nie suiwer emosioneel oorweeg moet word nie. Die hof het alle aspekte van die aangeleentheid deeglik oorweeg en ’n ingeligte beslissing gemaak dat dit wel in die belang van geregtigheid is dat die polisieman op borgtog, met streng voorwaardes, vrygelaat mag word,” sê Victor.
Die saak is tot 20 Maart uitgestel vir verdere ondersoek. Die staat sal dan bekend maak of die polisieman verder vervolg sal word of nie.


