Twee booswigte het vanoggend (Dinsdag) vroeg die huis van kol. Vernon Bester, bevelvoerder van die Kleinvlei-polisiekantoor, betree, hom gedreig en van sy persoonlike besittings beroof.
Bester, wat alleen tuis was, is glo in sy kamer oorval.
Kol. Pieter Galant, bevelvoerder van die Kuilsrivier-polisiekantoor, het die aanval omstreeks 02:00 by Bester se huis in Simonsvleiweg in Haasendal, Kuilsrivier, bevestig.
“Twee mans het by sy huis ingekom terwyl hy in sy kamer was; hulle het glo by die sydeur ingekom. Hulle het hom gedreig en hom van sy selfoon en juweliersware beroof,” sê Galant wat kort ná 03:00 self op die toneel was.
Die waarde van die gesteelde items is onbekend. Dis ook nog onduidelik wat anders gesteel is.
“Hy is gelukkig nie beseer nie,” sê Galant.
Die twee mans is glo in hul twintigs. Dis onduidelik of hulle bewapen was, “maar hulle het gedreig dat hulle hom sal skiet”, sê Galant.
’n Saak van huisroof word ondersoek.