Die Kleinvlei-polisie ondersoek ’n saak van opsetlike saakbeskadiging nadat een van dié diens se staatsvoertuie vanoggend (8 November) in Condorpark in Eersterivier aan die brand gesteek is.
Die voertuig, die eiendom van die polisie se provinsiale eenheid, is na bewering in die vroeë oggendure, omstreeks 04:20, aan die brand gesteek, sê kapt. Florina Muller, polisiewoordvoerder.
Die voertuig was buite die huis van ’n lid van die polisie geparkeer.
“Die polisiebeampte was onbewus van die brandende voertuig buite en is deur haar bure ingelig,” sê Muller.
Die nooddienste is kort daarna ontplooi.
Net die voorste twee sitplekke van die staatsvoertuig het uitgebrand, volgens twee polisiebeamptes wat op die toneel was.
“Volgens bystanders is die nommer en woord ‘26 Stuppa’ op die voertuig geskryf.”
Ondanks dié graffiti op die voertuig kon die polisie nog nie bevestig of bendes vir die voorval verantwoordelik is nie.
Hulle kon ook nog nie sê wat die motief vir die brandstigting is nie. Die saak word ondersoek.
Die polisie sê die saak is ’n sensitiewe aangeleentheid en daarom mag die straatnaam nie bekendgemaak word nie.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Enigiemand met inligting word versoek om die ondersoekbeampte by 021 902 8500 te kontak.