Polisie trek moordverdagtes gou vas

Sewe verdagtes, vyf mans en twee vroue, is binne net twee dae deur speurders van die Brackenfell-polisie vasgetrek vir die moord op ’n 33-jarige man van Kraaifontein.


Sewe verdagtes, vyf mans en twee vroue, is binne net twee dae deur speurders van die Brackenfell-polisie vasgetrek vir die moord op ’n 33-jarige man van Kraaifontein.

Die liggaam van die oorledene, Johan Asia, is verlede Dinsdagoggend in ’n vlak graf op die ou Everite-stofpad langs die Brackenfell-natuurtuin gevind.
Die verdagtes het onderskeidelik Vrydag en Maandag in die Bluedowns-landdroshof verskyn op aanklag van moord en word aangehou by die Pollsmoor-gevangenis, het ao. Erica Crous, polisiewoordvoerder, Maandag bevestig.

“Weens die sensitiewe aard van die ondersoek kan die polisie nie tans die motief van die moord bekend maak nie,” het Crous gesê.

’n Inwoner van die Everite-hostelle wat Kruispad toe gestap het, het die oorledene se liggaam om 10:21 gevind.
Sy het eers ’n groot bloedkol op die pad gesien waarna haar oog op die hoop sand ’n meter van die pad geval het.
Net ’n gedeelte van die slagoffer se kop en sy linkervoet het by die graf uitgesteek. Bloed was glo nog sigbaar aan sy kop.

Ondersoekbeamptes het bloedspatsels in die veld aan die ander kant van die pad gevind, sowel as ’n stuk pyp wat langs die oorledene gelê het.
Dit lyk ook of die slagoffer sonder klere vermoor is. Sy klere het in ’n hopie langs die pad gelê.
Familielede wat later op die toneel opgedaag het, het hom aan sy klere uitgeken.Daar word vermoed dat die oorledene na die stil pad gebring is om daar vermoor te word.

Volgens Crous is hy met ’n onbekende voorwerp teen die kop doodgeslaan. Hy is daarna met ’n hoop sand toegegooi.

Die ondersoek duur voort.

You need to be Logged In to leave a comment.