Breyton Langley sterk in die hospitaal aan nadat hy geskiet is.


Die Ravensmead-polisie het die publiek se hulp ingeroep om die skieters van ’n matrikulant te probeer vastrek.

Breyton Langley se matriekafskeid was op Saterdag 4 Mei en teen Sondag 11:00 is hy buite hul woonstelblok in Ash Court in Uitsiglaan geskiet. Hy sterk tans in die hospitaal aan ná hy twee keer in die kop geskiet is.

Kapt. Odwa Makupula, polisiewoordvoerder, sê volgens beskikbare inligting is Langley deur ’n onbekende vrou na buite geroep.

“Nadat hy na buite is, het sy ouers skote gehoor en toe hulle buite kom, het hulle gesien hul seun is geskiet. ’n Ambulans is ontbied en daar is met hom na die hospitaal gejaag,” sê Makupula.

Volgens Makupula is die motief vir die skietaanval nog onbekend. “Ons doen ’n beroep op die gemeenskap om die polisie te kontak indien hulle enige inligting rakende die skietery het,” sê hy.

Intussen het mense hul harte op sosiale media uitgestort oor wat met Langley gebeur het. ’n Vriendin van hom skryf op Facebook dat hulle nog so baie planne vir die toekoms gehad het. Jadon Faroa skryf: “Boeta, ons het saam grootgeraak. Ek weet jy gaan dit hierdeur maak. Wees net sterk soos altyd.” Kiara Titus skryf: “God is goed en Hy hoor ons gebede. Breyton, jy is ons vegter.”

You need to be Logged In to leave a comment.