Met vyf inhegtenisnemings in slegs twee dae, het die Brackenfell-polisie vandeesweek toegeslaan op misdadigers wat verbind word met nege onderskeie sake van diefstal uit motorvoertuie in verskeie areas in Brackenfell.
Die vinnige optrede van ’n polisie-ondersoekspan het gesorg dat vyf motorinbrekers teen Dinsdagoggend agter tralies was.
’n Sesde verdagte is later die dag in hegtenis geneem. Diefstal uit voertuie het die afgelope maand hoogty gevier in Brackenfell en is ’n knelpunt vir die Brackenfell-polisie.
In net een kompleks in Proteahoogte is vier motorinbrake onlangs gerapporteer.
Die deurbraak het egter op Maandag gekom. “Duidelike videobeeldmateriaal was beskikbaar in een so ’n saak wat Maandag rapporteer is.
Die misdaad het by dieselfde woonkompleks plaasgevind,” sê kapt. Erica Crous, woordvoerder van die Brackenfell-polisie. “Lt.kol Jerome Syster, waarnemende stasiebevelvoerder, het dadelik ’n taakmag saamgestel om dié saak en ander leidrade te begin ondersoek,” sê Crous.
Die ondersoek het gely tot die blitsige inhegtenisname van ’n 45-jarige man van Brackenfell op Maandagaand en drie ander verdagtes – twee mans en ’n vrou van Kraaifontein – op Dinsdagoggend.
Volgens die polisie is al die verdagtes verbind met ten minste vier sake van diefstal uit voertuie, en een verdagte met twee verdere sake. Ook op Dinsdag, is nog ’n verdagte in hegtenis geneem in verband met drie sake van diefstal uit motorvoertuie in Hoogstede vroeg Maandagoggend.
“Die polisielede het die R300 patrolleer toe hulle ’n struktuur in die veld agter Hoogstede gesien het. Toe hulle dit nader, het ’n man uitgestap gekom met ’n groot jagmes wat hy vinnig in sy sak gedruk het. Toe die polisie hom deursoek het, het hulle ook ’n Gopro kamera in sy sak gevind. Hy kon nie verduidelik hoe die items in sy besit gekom het nie, en die polisielede het hom in hegtenis geneem,” sê Crous.
Die eienaar van die gesteelde goedere het dit later as syne uitgeken.


