Drie verdagtes is in hegtenis geneem toe die Kuilsrivier-polisie op Woensdag 8 Mei op ’n vermeende dwelmhuis in Sophiastraat in Kalkfontein toegeslaan het.
AO Liesel Beukes, woordvoerder van Kuilsrivier-polisie, sê hul teen-misdaadeenheid was Woensdagaand omstreeks 19:40 in Kalkfontein toe hulle deur gemeenskapslede voorgekeer is. Die polisiebeamptes is ingelig dat dwelms by ’n huis in Sophiastraat verpak word.
Beukes sê die beamptes het die huiseienaar se toestemming gevra om die perseel te deursoek.
Hulle het op 1 077 Mandrax-tablette, 50 sakkies tik, ’n 26.5 mm- fakkelpistool en ammunisie – waaronder 34 9 mm-patrone en vyf .38-Special-patrone – beslag gelê. Die geraamde straatwaarde van die dwelms is R86 160 vir die Mandrax en R1 750 vir die tik, sê Beukes.
Twee mans, onderskeidelik 47 en 42 jaar oud, en ’n 28-jarige vrou is in hegtenis geneem.
Die drie verdagtes het Vrydag 10 Mei in die Blue Downs-landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, sowel as die besit van dwelms.


