Die polisie se handelsmisdaad-eenheid het Donderdag op ’n perseel in Brackenfell toegeslaan waar vervalste Springboktruie vervaardig word.
Daar is beslag gelê op meer as 100 vervalste Springbok-truie, en twee vroue van 27 en 47 jaar is in hegtenis geneem en aangehou op ’n klag van die besit van vervalste goedere.
Die polisiewoordvoerder kapt. FC van Wyk sê die polisie het inligting bekom oor die perseel en nadat ’n lasbrief bekom is, die perseel gaan deursoek.
“Met die deursoeking van die perseel in Fouriestraat het die polisie afgekom op 67 Springbok-truie met handelsmerk en 50 daarsonder, asook nog 513 boordjies en krae. Daar was sewe werkstasies,” sê Van Wyk.
Rian Oberholzer, uitvoerende hoof van SA Rugby, het Bok-aanhangers vroeër vandeesmaand gewaarsku teen veral aanlyn winkels wat vervalste Springboktruie verkoop.
“Ons besef baie ondersteuners is gretig om die nuwe reeks (van Nike) in die hande te kry, maar ons waarsku hulle om slegs by amptelike en bekende afsetpunte te koop eerder as om die risiko te loop om bedrieg te word.”
Die twee verdagtes sal na verwagting in die Blue Downs-landdroshof verskyn.