Die Bishop Lavis-polisie het verlede week op ’n hartseer wyse afskeid geneem van ’n beampte van dié kantoor, wat verlede week doodgeskiet is.
Konst. Vuyolethu Bokini (37) en ’n kollega was van diens af toe hulle in ’n motor in Philippi gesit en gesels het.
Onbekende mans het op hulle losgebrand en Bokini is noodlottig gewond, terwyl sy kollega die aanval oorleef het. Bokini is onder meer in die kop en bors gewond.
Dit is die vyfde voorval die laaste ruk waarin daar op lede van die polisie geskiet word en die tweede noodlottige voorval.
By die troosdiens verlede week het bedroefde kollegas geluister na gewyde musiek en toesprake deur hooggeplaastes. Deurlopend is Bokini as pligsgetrou en netjies beskryf.
Onder die gaste by die troosdiens was Nicolette Kinnear, die weduwee van die vermoorde lt.kol. Charl Kinnear, eertydse bevelvoerder van die provinsiale teen-bende-eenheid, wat jare gelede in ’n sluipmoordaanval vermoor is.
Sers. Luzuko Mkhentane, die Suid-Afrikaanse Polisie-unie se voorsitter gemoeid met Bishop Lavis, het in sy spreekbeurt gesê daar was nooit dissiplineprobleme met Bokini nie.
“Hy was ’n voorbeeld vir baie van sy kollegas – altyd pligsgetrou en netjies. Al het hy ook ’n denimbroek aangehad, was dit netjies,” het Mkhentane gesê.
Die bestuur van die Bishop Lavis-polisie het Bokini se dood betreur.
“Ons as die polisiegemeenskap van Bishop Lavis se harte is gebroke oor die ontydige heengaan van ons geliefde kollega. Sy nagedagtenis sal vir ewig en altyd in ons harte bly voortleef. Sy voetspore wat hy hier in Bishop Lavis gelaat het, sal nooit uitgewis word nie,” sê sers. Samantha Adonis, woordvoerder van die stasie.
Adonis het benadruk dat hulle hoop die moordenaar of moordenaars word spoedig aangekeer.
“Enigiemand wat polisiebeamptes teiken, hoort nie op straat nie en verdien die volle mag van die gereg. Ons probeer daagliks om ons mense se lewens te beveilig, dan word ons uitgemoor,” sê Adonis.