Dié kruis is vir ’n ander slagoffer naby Rothschild-boulevard opgerig.FOTO’s: Richard Roberts


Ná die nuusberig oor die onlangse gru-ongeluk in Plattekloofweg, wat die lewe van ’n jong vrou geëis het, het verskeie lesers hul misnoeë uitgespreek oor beweerde wetteloosheid op dié roete.

Die ongeluk het op Sondag 26 Junie plaasgevind.

’n Vrou is op die toneel dood.

’n Man, glo die bestuurder, is in ’n ernstige toestand in ’n hospitaal opgeneem.

Volgens die Plattekloof, Welgelegen, Panorama en Kleinbosch-buurtwag (PWP) het die bestuurder van ’n motor ’n gaping tussen die motor voor hom en die een langs hom probeer neem.

Hy was glo onsuksesvol en het beheer verloor, waarna die motor die randsteen en toe ’n boom getref het.

Die voertuig het in twee geskeur.

Hierdie twee kruise is naby die sirkel in De Grendel-rylaan opgerig.

Die kruis is langs Plattekloofweg naby Kleinbosch opgerig .

“Bly in Plattekloof (sic), dag en nag, niemand stop by stopstrate nie. Moet bietjie verkeerspolisie hier kry,” het ’n leser verlede week op TygerBurger se Facebook-blad geskryf. Nog ’n leser het aangeraai dat spoedwalle op die pad aangebring word om jaagduiwels te stuit. Verskeie ander het die voorval aan spoed en onverskilligheid toegeskryf.

“Spoed maak dood soos ons almal weet. Hou by die spoedgrens en jy sal jou bestemming veilig bereik. Veiligheid eerste,” skryf nog ’n leser.

’n Geel lint is steeds op die plek waar die ongeluk plaasgevind het.

Vanaf Rothschild-boulevard in Welgelegen tot by De Grendel-rylaan in Bothasig is altesame vyf kruise langs die pad opgerig ter nagedagtenis aan mense wat hul lewens op die roete verloor het.

Dis egter onduidelik wat die oorsake van hul dood is.

Maxine Bezuidenhout, woordvoerder van die Stad Kaapstad se verkeersdienste, het op navrae oor spoed en die oorskryding van die spoedgrens op dié roete gereageer.

“Die Stad se verkeersdienste is bewus van die verontagsaming van die padreëls, en bestuurdersgedrag op die pad. Die verkeersdienste voer daagliks patrollies langs Plattekloofweg uit, terwyl die toepassing van spoed meer as een maal ’n week gemonitor word,” sê Bezuidenhout.

Die kruis is ook naby die ingang van Kleinbosch opgerig.

Dié kruis is vir ’n ander slagoffer naby Rothschild-boulevard opgerig.FOTO’s: Richard Roberts

Sy sê tussen 2 en 26 Junie was die aantal spoedgevalle wat opgeneem is 562, waarvan 179 km p/h die hoogste lesing vir dié periode was.

“Hoewel die verkeersdienste hul bes probeer om die padreëls toe te pas en bestuurders aan te keer wat die reëls oortree, kan ons nie oral op een slag wees nie. Ons pleit by motoriste om die reëls te gehoorsaam en om binne die spoedgrens te bly,” sê Bezuidenhout.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article