’n Kennisgewing by die poskantoor in Eersterivier ’n dag nadat dit beroof is.


Poskantoorwerkers in die City Centre-winkelsentrum in Eersterivier het verlede Woensdag agter geslote deure gewerk ná ’n rooftog die vorige dag.

Met TygerBurger se besoek ’n dag nadat vier mense daar in ’n rooftog raakgeskiet is, was ’n kennisgewing teen ’n glasdeur – “This branch is temporary closed due armed robbery” (sic) – stille getuienis van wat die vorige dag daar plaasgevind het.

Rowers het geld van poskantoorwerkers geëis en toe die polisie op die toneel kom, het ’n skietery uitgebreek.

Vier mense, insluitend ’n polisiebeampte, is in die skietery gewond.

Luidens ’n polisieverklaring is twee verdagtes kort ná die voorval in hegtenis geneem. Konst. Jessica Radebe, polisiewoordvoerder, sê nog drie verdagtes is later die week in hegtenis geneem ná goeie ondersoekwerk deur die polisie. Van die gesteelde geld is ook teruggevind.

Johan Kruger, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Poskantoor, sê alle poskantoorwerkers ontvang berading ná ’n aanval. “Buiten die trauma en skade aan die poskantoor, verloor die poskantoor ook geld omdat dit gesluit moet word,” sê Kruger.

Volgens Kruger is die poskantoor besig om planne in plek te stel om seker te maak poskantore is veilig. “Daar gaan veral op die poskantore in hoërisiko-areas gefokus word en ook om kontant in poskantore te beperk,” sê Kruger.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article