Johan Hulme van Bassett Security en Phillip van Zijl van Bolt Risk Management.FOTO: Desirée Rorke


Twee plaaslike sekerheids­maat­skappye gaan kragte saamsnoer in ’n strategiese alliansie om ’n groter kapasiteit van veiligheids­dienste in Brackenfell te lewer.

Die nuwe vennootskap tussen Bolt Risk Management en Bassett Security, wat op 1 Junie begin, bring ’n groter vloot voertuie, meer personeel en ’n nuwe ambulansdiens na die groter Brackenfell-omgewing.

“Die gekombineerde kundigheid van Bassett en Bolt sal ons in staat stel om ’n groter verskeidenheid dienste aan die gemeenskap te lewer. Die strategiese alliansie sal twee talentvolle professionele spanne se kundigheid en jare lange ervaring tot voordeel van die gemeenskap, sowel as die Brackenfell Business Improvement District, kombineer,” het Phillip van Zijl, bestuurslid van Bolt, verlede week aan TygerBurger gesê.

Hulpbronne sal gekombineer word, wat ’n netwerk van CCTV- en ander sekerheidskameras insluit om ’n breër voetspoor in Brackenfell te bied.

“Die gekombineerde sentrale beheerstasie sal dan ook oor groter kapasiteit beskik met betroubare kragbronne, wat ons in staat sal stel om alarms te monitor tydens langdurige kragonderbrekings.”

Die vloot van sekerheidsvoertuie in Brackenfell sal tot 10 voertuie uitgebrei word, met twee bykomende gewapendereaksie-eenhede wat geflank word deur ander eenhede in Kuilsrivier, Kraaifontein, Durbanville en Bellville.

Die algehele vloot sluit ook nege battery-aangedrewe voertuie in.

Die nuwe ambulansdiens Securemed bestaan uit drie ambulanse, ’n span paramedici, twee mediesereaksie-voertuie en ’n dokter op 24-uur-roep, wat pasiënte alle ure tuis sal besoek.

Volgens Johan Hulme, mede-eienaar van Bassett Security, het die behoefte aan meer ambulansdienste tydens die pandemie duidelik geraak.

“Mediesereaksie-oproepe was algemeen, waar die oproep eerste na ons beheerkamer sou deurkom, waarna ons dan ’n ambulans ontbied. Die nuwe ambulansdiens, wat direk met die kontrolekamer verbind is, sal ’n vinniger reaksietyd tot gevolg hê,” sê Hulme.

Bied uitdagings die hoof

Hy hoop dat die nuwe alliansie die gemeenskap sal help om die talle uitdagings wat Suid-Afrikaners in die gesig staar, die hoof te bied.

“Met ’n kritiese tekort aan polisiepersoneel en hulpbronne, speel die private sekerheid-sektor ’n onmisbare rol in beveiliging. Sonder dit sou misdaad in Suid-Afrika heeltemal onbeheerbaar wees,” sê Hulme.

Volgens hom is daar tans 10 000 geregistreerde sekerheidsfirmas landswyd met 600 000 aktiewe beamptes teenoor 200 000 polisiebeamptes.

“Maar sonder volle arrestasieregte stap sekerheidsbeamptes op ’n ‘dun grys lyn’ – iets wat die privaat sektor al jare lank sonder veel sukses beveg,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article