As ’n jong skooldogtertjie wat altyd geskuil het agter haar pa se “mik-en-druk”-kamera, het Simoné Smit nooit gedink hierdie passie van haar sou so ’n groot rol in haar lewe speel nie.

Skaars twee jaar in die bedryf is dié talentvolle troufotograaf van Brackenfell onlangs bekroon as die beste in-house troufotograaf in die wêreld in die Global Wedding Awards, wat deur Luxlife, ’n internasionale digitale publikasie, aangebied word.

Haar werk is outomaties genomineer as deel van haar portefeulje wat op die publikasie gelys is.

Die oomblik was baie groot toe haar trofee ’n week of wat gelede uit die Verenigde Koningkryk in Suid-Afrika aangekom het.

“Toe ek so na die trofee kyk, het ek diep in my binneste gedink, I actually did it! Ek het dit glad nie verwag nie; ek dink dit sink nog in. Dit is vir my só ’n groot voorreg om op ’n internasionale vlak erkenning te ontvang as ’n fotograaf wat in ’n klein dorpie, Bonnievale, grootgeword het,” vertel sy aan TygerBurger.

Menslike emosies

Haar passie vir troufoto’s lê in die menslike emosies gekoppel aan die troudag, en om dit vir ewig op film vas te vang.

“Met elke troue het ek die voorreg om spesiale oomblikke, wat in ’n oogwink kan verdwyn, te kan vasvang – elke traan, elke drukkie, elke glimlag. Om ’n fotograaf te wees is soveel meer as net foto’s neem. Ek bied bystand, gee raad, help bruide om hul rokke vas te maak en leer hulle selfs hoe om die sjampanjebottel te pop vir die foto’s,” sê sy.

Simoné spandeer die meeste van die tyd saam met die paartjie op hul troudag en sê sy bou ’n spesiale verhouding met elkeen van hulle.

“Met amper 100 troues wat ek vir 2024 reeds bespreek het, sien ek uit na elkeen van hulle en om elkeen se unieke verhoudings en persoonlikhede te kan afneem. Dis vir my belangrik om te onthou dat al is dit my 100ste troue wat ek afneem, is dit die paartjie se eerste troue en daarom sit ek soveel tyd, liefde en kreatiwiteit in my foto’s om daardie werklike emosies te weerspieël.”

Simoné het ná skool in 2013 fotografie gaan studeer by Stadio Higher Education in Bellville.

In die jare wat gevolg het, het sy ondervinding verwerf deur deeltyds saam met ander fotograwe te werk, terwyl sy nog voltyds ’n administratiewe pos beklee het.

Dis eers in 2020, toe haar paaie met Charmaine Gouws, eienaar van die Goedgeleven-trouvenue buite Durbanville, gekruis het dat sy haar droomwerk as voltydse troufotograaf by die venue losgeslaan het.

“Dit was die groot geleentheid waarop ek gewag het, en die res is geskiedenis.”

Charmaine skryf Simoné se sukses toe aan haar passie vir fotografie.

“Haar werk is iets besonders. Sy het haar staal gewys en van krag tot krag gegaan om internasionaal raakgesien te word.”

  • Hierdie berig is aangepas sedert dit eers gepubliseer is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article