Pinehurst se dowekrieketspeler Ruan in span na Katar

Durbanville se eie SA Dowekrieketspeler, die 20-jarige Ruan du Plessis van Pinehurst, maak opgang in die dowekrieketwêreld met ’n rits prestasies.


Durbanville se eie SA Dowekrieketspeler, die 20-jarige Ruan du Plessis van Pinehurst, maak opgang in die dowekrieketwêreld met ’n rits prestasies.

Ruan, lid van die Durbanville-krieketklub, is in April na afloop van die Nasionale Dowekriekettoernooi vir die tweede agtereenvolgende jaar vir die SA Dowekrieketspan gekies.

Dié span neem in Desember in Katar in die Verenigde Arabiese Emirate aan die 2023 Deaf International Cricket Council (DICC) se T20-wêreldkampioenskap deel.

By die Nasionale Dowekriekettoernooi, wat vanjaar vir die eerste keer in 19 jaar in die Wes-Kaap in Durbanville aangebied is, het WP derde geëindig. Ses provinsies het deelgeneem – WP, Boland, Natal, Gauteng, Noord Gauteng en Noord-Kaap.

Speler van die wedstryd

Ruan is by dié toernooi in twee wedstryde as speler van die wedstryd aangewys – in die wedstryde teen Natal en Noord-Kaap, en was ook die speler wat die tweede meeste lopies met die kolf aangeteken het uit die 90 spelers by die toernooi.

Hy is ook aangewys as vierde mees waardevolle speler in dié landwye toernooi.

Ruan, wat 64%-gehoorverlies in albei ore het, is in Oktober verlede jaar vir die eerste keer vir die SA Dowekrieketspan gekies ná ’n blink loopbaan sedert hy as agtjarige sy kriekettande by die Durbanville-krieketklub begin slyp het.

Hy het senior klubkrieket gespeel sedert hy 15 jaar oud was en is in daardie selfde jaar vir die WP se o.19- Learners with Special Educational Need-skolespan gekies.

Hy was ook net 15 jaar oud toe hy vir die WP Dowekrieketspan gekies is. Op 16 was hy die jongste speler ooit wat aan die nasionale toernooi gaan deelneem het. Ruan is ook sedertdien die onderkaptein van die span. Hy is ook reeds twee keer as die WP se Dowe Speler van die Jaar aangewys.

Naaswenner

Verlede jaar in Oktober het hy die SA Dowekrieketspan vir die eerste keer verteenwoordig by die Deaf International Cricket Council se kampioentrofee-toernooi in Doebai, waar sy span as naaswenner geëindig het.

Ruan word deur Rory Hickson, voorsitter van Dowekrieket SA, as ’n kardinale lid van die span beskryf.

Dowekrieket SA is ’n nie-winsgewende organisasie wat hom beywer om dowekrieket in Suid-Afrika te bevorder, en is by Krieket SA, asook die Deaf Sports Federation of South Africa, geaffilieer.

Ongelukkig is daar nie geld om die spelers se vliegkaartjies Doha toe te betaal nie. Hickson het versoek dat mense Ruan geldelik ondersteun met donasies vir sy vliegkaartjie, asook die res van die span.

You need to be Logged In to leave a comment.