Perlemoen op openbare park gekry, vermoedelik gestort

‘n Groot hoeveelheid perlemoen is glo onlangs by ‘n openbare park in Panorama in Wyk 1 gekry nadat dit daar gestort is. Dis nog onbekend wie vir die voorval verantwoordelik […]


‘n Groot hoeveelheid perlemoen is glo onlangs by ‘n openbare park in Panorama in Wyk 1 gekry nadat dit daar gestort is. Dis nog onbekend wie vir die voorval verantwoordelik is.

Cheryl Visser, wykraadslid, het op ‘n onlangse Subraad 7-vergadering in Durbanville die Stad Kaapstad se bestuur vir stedelike afval bedank vir die verwydering van die perlemoen. Volgens haar moes die departement ‘n permit bekom om dit te verwyder.

Visser sê dit was moeilik om die permit te bekom, maar dat sy die departement wil bedank vir sy harde werk.

Grant Twigg, burgemeesterskomiteelid vir die bestuur van stedelike afval, het die voorval bevestig. Hy sê sowat 100 kg perlemoen is by die park in Fiona-singel, Panorama, gekry.

“Die bestuur van stedelike afval se skoonmaak-departement is aangestel om die perlemoen te verwyder, wat reeds afgehandel is. Die verwydering het beteken dat ‘n aansoek gedoen moes word om permitte te bekom om van die perlemoen by die opvullingsterrein in Vissershok ontslae te raak. Die permit is standaard vir die verwydering van enige diere-afval by opvullingsterreine van die Stad Kaapstad,” sê Twigg.

Twigg sê die voorval is deur gemeenskapslede aan die polisie gerapporteer om ondersoek in te stel.

You need to be Logged In to leave a comment.