Adriaan Redelinghuys (59), die veroordeelde Stikland-pedofiel, het die naweek onverwags in die tronk gesterf nadat hy onlangs tronkstraf van 132 jaar in die Parow-streekhof opgelê is.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het aan TygerBurger gesê Redelinghuys is dood aan ‘n hartaanval.
“Hy is tot drie lewensvonnisse en [‘n bykomende] 57 jaar tronkstraf gevonnis.”
Die sakeman-pedofiel het twee minderjarige niggies van onderskeidelik 10 en 12 jaar oud, van ’n plaas naby Malmesbury, herhaaldelik oor etlike jare onsedelik aangerand.
Redelinghuys is op Donderdag 12 Oktober in die Parow-streekhof skuldig bevind op 448 klagtes wat hiermee verband hou, en wat onder meer pornografie-klagte insluit.
Dit volg nadat hy in 2015 met pornografiese materiaal van kinders op sy rekenaar by sy werk in Stikland betrap is.
TygerBurger het destyds oor Redelinghuys en sy wandade berig en hoe die polisie hom ná ’n intensiewe soektog van ’n dag aangekeer het.
Die klagtes wissel van seksuele aanranding, besit van kinderpornografie en die vervaardiging van pornografiese materiaal.
Ao. Henrietta van Niekerk, Bellville-polisiewoordvoerder, het gesê Redelinghuys is drie keer tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis, en is ook ’n bykomende vonnis van 57 jaar op alternatiewe klagte opgelê.
“Geen van hierdie vonnisse loop saam nie, wat beteken dat die verdagte 132 jaar effektiewe tronkstraf moet uitdien,” het sy gesê voordat die nuus oor sy sterfte bekend geword het.
Sy het ook gesê dat die inligting oor die pornografiese materiaal deur een van Redelinghuys se medewerkers op sy rekenaar gekry is.
Dié kollega het toe die Bellville-polisie meegedeel en die saak is oorhandig aan die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS).
“Ao. Johan Kotze was die ondersoekbeampte. Die beweringe is opgevolg en daar is op die verdagte se rekenaar beslag gelê.
“Op die rekenaar is duisende pornografiese foto’s en video’s van twee spesifieke kinders gevind.
“Met verdere ondersoek is bevind die twee kinders, onderskeidelik 10 en 12 jaar oud, is van Malmesbury afkomstig en dat die verdagte met die toestemming van hul ouers die kinders gaan haal het om naweke by hom te kuier.”
Sy het gesê in dié spesifieke geval het die verdagte bevriend geraak met die familie, hul finansieel begin ondersteun en sodoende die ouers en die kinders se vertroue gewen.
“Die ouers het die kinders naweke na die verdagte gestuur.
“Redelinghuys was vir vyf jaar ’n familievriend en die meisies het eers die afgelope twee jaar by sy huis gekuier.”
Die GKS-eenheid word geprys vir hul uitsonderlike en toegewyde diens.
“Die verdagte is as pedofiel verklaar.”