Die afgelope langnaweek was vir die meeste Kapenaars ’n tyd waarin hulle kon rus en ontspan, maar vir past. Adri Theron, ’n atleet, was dit egter drie dae van swoeg en sweet.
Theron het van Vrydag 15 Desember tot Maandag 18 Desember vier marathon-padwedlope in drie verskillende dorpe in twee lande kafgedraf. Die wedlope is ten bate van welsyn.
Theron, ’n lid van die Volle Evangelie kerk Lewende Woord in Parow, het deur middel van die geldinsamelingsprojek GivenGain geld ingesamel vir Childhood Cancer Foundation South Africa (CHOC), ’n organisasie sonder winsbejag.
Bloedkanker is in April 1988 by sy eie seun, Sven, gediagnoseer. Sven is op 12 Junie 1989 oorlede, (“Hardloop vir kanker”, 18/10).
Sven het die hele jaar in 1988 in die hospitaal deurgebring en is in Desember daardie jaar ontslaan. Die gesin het daarna na Vredenburg verhuis waar Theron by die Militêre Akademie in Saldanhabaai gestudeer het.
Sy vier marathon-padwedlope in Suid-Afrika en Namibië is by die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Rondebosch in Kaapstad, Vredenburg, Keetmanshoop en Swakopmund afgelê. Die tog was altesame 168,8 km lank en staan bekend as Sven Run for CHOC.
CHOC sê in ’n verklaring Theron het ’n lang geskiedenis wat padwedlope betref.
Hy het reeds die Comrades sowel as die Twee-Oseane-padwedlope voltooi.
“Ná sy mees onlangse marathon in 2020 het hy besluit om sy wedlope te laat saak maak, en aan die begin van die jaar het hy na ons uitgereik en voorgestel dat hy ’n solo-marathon aanpak om geld vir die Wes-Kaapse distrik van CHOC in te samel,” lui die verklaring.
Theron het Vrydag om 04:00 by die Rooi Kruis-kinderhospitaal weggespring en via Seepunt tot by CHOC se kantore by Sybrand Park House gedraf. Saterdag het hy Saldanhabaai ook om 04:00 verlaat en tot by Vredenburg aan die Weskus gedraf. Maandag het hy sy derde en vierde wedlope in Namibië aangepak.
Vrywilligers van CHOC, familielede en vriende het hom in Kaapstad ondersteun en in die Weskus is hy deur die Salkoriane-atletiekklub ondersteun waar ’n 5 km-padwedloop vir die publiek ook aangebied is.
“Daar is ook ’n kort kanker-bewusmakingsprogram aangebied om lede van die publiek in te lig oor CHOC en die dienste wat hy aanbied.