Pastoor se seun sterf koeëldood nadat hy kinders wou aanpraat oor klappers

Die bloed van Kaapse jongmense hou aan vloei nadat minstens vier mense verlede week in Eersterivier doodgeskiet is.


Die bloed van Kaapse jongmense hou aan vloei nadat minstens vier mense verlede week in Eersterivier doodgeskiet is.

Jaylin Lawak, ’n leerder aan die Hoërskool Eersterivier, is een van diegene wat doodgeskiet is. Hy het in die hospitaal aan sy wonde beswyk nadat hy Woensdag in Buenos Airesstraat geskiet is.

Dit is die soveelste jongman wat die afgelope twee maande op die Kaapse Vlakte ’n skietdood sterf.

Drie keer geskiet

Past. Hubert Kemp, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Eersterivier, se seun Edward is ook een van die slagoffers.

“Koeëls vlieg nou al vir twee weke aanhoudend in die gemeenskap. Geweld en moord is nou aan die orde van die dag. Die geweld is ook nou so naby dat my eie seun, Edward, ook verlede Saterdag drie keer geskiet is en aan sy wonde beswyk het. Daar was nie ’n rede hoekom hy geskiet is nie,” sê hy.

Kemp sê op die dag van sy seun se skietery het hulle die agterplaas skoongemaak, die motors gewas en agterna het hulle gesit en kuier en gesels.

“Ons bure se kinders is geneig om klappers te skiet en dit ontstel gewoonlik die honde.

“Edward het al by verskeie geleenthede die kinders vermaan om nie klappers te skiet nie.

“Hy was besig om ’n toebroodjie te eet toe hy weer klappers hoor en hy is uit om te gaan kyk wie dit afskiet. Voor die huis is ’n parkie en hy gaan sit toe daar om te kyk wie die skuldiges is.

“ ’n Jong man kom toe reguit op hom afgestap en skiet hom in die maag. Toe hy op die vlug slaan, is hy twee keer in die rug geskiet.

“Hy het tot in die huis gehardloop en toe hy daar neerslaan, het daar aanvanklik niks bloed uitgekom nie. Ek laai hom toe in die kar en jaag met hom na die Eersterivier-hospitaal.

“Met ons aankoms was hy so opgeswel dat dokters hom na die Tygerberg-hospitaal verwys het. In ’n poging om sy lewe te red het hy ’n vyf uur lange operasie ondergaan,” sê Kemp.

Sterf

Met besoektyd Sondag het dinge nie goed gelyk nie, sê Kemp.

“Hulle het aan my verduidelik dat sy ingewande stukkend geskiet is. Ek was nog daar toe hy aan sy wonde beswyk het,” sê ’n bedroefde Kemp.

Oor Lawak se dood sê hy ’n jong man se lewe is doelloos van hom weggeneem.

“Hy het so baie potensiaal gehad om sy skoolloopbaan te voltooi en dan het die res van sy lewe voor hom gelê. Die groot hartseer is dat hy nie eens by bendebedrywighede betrokke was nie. Die GPF spreek hom sterk uit teen die booswigte wat Eersterivier onregeerbaar wil maak. Ons wil nie so lewe nie en ons moenie so lewe nie,” sê Kemp.

Hy het sy medelye met Lawak se ouers uitgespreek.

Medelye het ook op sosiale media ingestroom met verskeie kennisse en vriende wat hul skok oor Lawak se dood uitspreek.

TygerBurger is bewus van nog twee mense wat oor die naweek in Eersterivier afgemaai is.

You need to be Logged In to leave a comment.