Tydens verlede week se swaar reën moes besoekers aan die Kraaifontein-daghospitaal deur water wat enkeldiepte hoog was, loop om by die hospitaal in te kom.
Die hospitaalterrein is heeltemal oorstroom as gevolg van verstopte stormwaterpype wat nie die water kon weglei nie.
Pasiënte, waarvan baie bejaardes en ma’s met babas was, moes hul skoene en kouse uittrek om op die perseel en by die voordeur in te kom.
Dié oorstromings, sê inwoners, word jaar ná jaar veroorsaak deur verstopte stormwaterdreine in omliggende strate, maar volgens die Stad Kaapstad is die oorsaak die dreine op die daghospitaal se terrein, wat onder die jurisdiksie van die provinsiale gesondheidsdepartement val.
Brenda Hansen, die plaaslike raadslid, sê sy is bewus van die probleem en het dit ná ’n besoek aan die perseel verlede week by die verantwoordelike departement aangemeld.
Rob Quintas, burgemeesterskomiteelid, sê die Stad het die probleem ondersoek en bevind dat die hoofoorsaak van die oorstromings die geblokte dreine op die hospitaal se perseel is.
Munisipale werkers het die dreine verlede week skoongemaak om die oorstromings te verlig, sê hy.
’n Inwoner, Abdiya Paulse, het op die Kraailove-gemeenskapsblad gemeld dat die oorstromings by die daghospitaal elke jaar tydens die wintermaande plaasvind.
Dít, volgens Patricia David, is moontlik omdat daar nie genoegsame instandhouding op die perseel gedoen word nie.
“Is hulle dan nie veronderstel om die dreine skoon te maak en die blare uit te blaas voor die winterreën nie?” vra David.
Aneen Ferreria meen die drein word geblok deur mense wat vullis strooi.





