’n Wye soektog na ’n vermiste vrou van Bellville, Chantal Pelser (52), het vanmiddag (Woensdag 28 Mei) tot ’n tragiese einde gekom toe haar liggaam by ’n hotel in Kaapstad ontdek is.

Beau, die dogter van Pelser se lewensmaat, Linlee Solms, het aan TygerBurger bevestig dat hulle nog besig is om alle agentskappe oor haar dood in kennis te stel om die soektog te staak.
“Toe ons op die toneel aankom, was die ambulansdienste en polisie reeds besig met die ondersoek,” sê Beau. Sy en haar ma gaan die liggaam Donderdag (29 Mei) uitken.
Hulle het die laaste aktiwiteit van Pelser se bankkaart by ’n hotel in Kaapstad opgespoor.
Lt.kol. Fienie Nimb, ’n woordvoerder vir die Bellville-polisie, het Pelser se dood bevestig.
“ ’n Selfdood word tans ondersoek. Pelser se liggaam is in ’n kamer by ’n gastehuis in Kaapstad ontdek. Sy het haarself Sondag daar ingeboek. Geen misdaad word in hierdie stadium vermoed nie,” het Nimb gesê.
Pelser is Sondagmiddag (25 Mei) as vermis aangemeld. Volgens inligting van PinkLadies is sy as ’n “kwesbare persoon” beskryf.

Haar voertuig, ’n Hyundai i10, is Sondag (25 Mei) omstreeks 13:00 in Bruitengrachtstraat in die Bo-Kaap in die rigting van Kloofnekweg, Kaapstad, laas gesien. Sy kon sedert dieselfde dag van 15:00 af nie weer op haar selfoon bereik word nie.
Volgens ’n plasing wat Solms op Facebook gedeel het, is Pelser se voertuig sedertdien nog nie weer op die polisie se License Plate Recognition (LPR)-stelsel gesien nie.
“Sy het oorspronklik van haar woning in Tygervallei, Bellville, waar sy alleen woon, vertrek,” het Nimb bevestig.
Solms het Dinsdagoggend die volgende op ’n Facebookplasing gedeel: “Ek doen hierdie beroep uit absolute desperaatheid en hoop dat iemand my lewensmaat, Chantal Pelser, gesien het. Sy is sedert Sondagmiddag vermis.
“Haar foon hou aan met lui, dus vermoed ek haar battery het papgeraak.”
• Hierdie is ’n ontwikkelende storie.
You must be logged in to post a comment.