Die verwoestende brand wat die lewe van ’n vyfjarige meisie by ’n informele woonstelgebou in Parow geëis het, het daartoe gelei dat die wykraadslid nou ander soortgelyke geboue in die gebied wil identifiseer en voorkom dat nog geboue onwettig beset word.
Die brand het op Maandag 19 Augustus omstreeks 17:00 by die Parow Centre Tallent Park-gebou op die hoek van Tallent- en Voortrekkerweg, Parow, uitgebreek. ’n Meisie (5) is in die voorval dood en talle ander mense is sonder heenkome gelaat.
LEES | Die nuutste digitale weergawe van die TygerBurger hier
Roger Cannon, wykraadslid, het verlede week gesê hy wil ’n vergadering met alle rolspelers belê om soortgelyke geboue te besoek, en ook om te voorkom dat nog geboue in die gebied onwettig deur mense beset word.
“Ons moet ’n opvolgvergadering hou oor die geboue. Ek wil water en sanitasie, omgewingsgesondheid, elektrisiteit, brand- en reddingsdienste, rampbestuur en die gebou-inspekteer hierby betrek,” sê Cannon.
Vergadering
Hy wil die vergadering binne die volgende twee weke belê.
“Ek wil hiermee die kwessie van probleemgeboue aanpak. Ons kan nie toelaat dat dit plaasvind nie, en aanmekaar word daar net veranderings aan die geboue gemaak. Die onwettigheid moet stop.”
Hy sê hy gaan nog soortgelyke geboue identifiseer en probeer vasstel waar nog sulke besettings plaasvind. “Dis nie al die geboue nie, net die geboue wat nie vir woondoeleindes geskik is nie.”
KYK | Seun (5) dood in vlammehel wat gebou in Parow verswelg
Hy sê van die geboue was eers kantoorruimte wat nou in woonstelle of dagsorgfasiliteite omskep word. “Die plekke is nie geskik vir sulke bedrywighede nie.”
Hy sê ook hy hoop die rolspelers sal die kwessie suksesvol kan aanpak.
Cannon sê die beskadigde gebou word tans opgeruim. Hy vrees egter dat mense dit weer sal betree. “Ons moet nougeset ’n oog op die gebou hou. Mense sal weer inbeweeg en die gebou is nie geskik daarvoor nie. Die hele boonste verdieping is vernietig.”
Die skade is glo aangevuur deur die afskortingsmure wat vinnig gebrand het. “Een kamer is met dié mure sommer in vier kamers omskep.”
Slagoffer
Oor die jong brandslagoffer, Sinesipho Mahoungou, sê Cannon dat die kind en haar gesin nie eintlik in die gebou gewoon het nie, maar dat die kind wel daar ’n nasorg bygewoon het, waar ’n volwasse vrou na haar omgesien het. Sy en haar ouers woon glo in ’n gebou oorkant die pad. “Die meisie is onder ’n tafel gekry,” sê hy.
Volgens hom moes die ouers R2 000 betaal vir die DNS-toets om uitgevoer te word, anders sou hulle maande lank moes wag vir die uitslae. Die gesin is glo hiermee deur die Burgemeester-kinderfonds bygestaan.
TygerBurger wou by die Stad Kaapstad hoor of hulle nou al kon vasstel wat die brand veroorsaak het.
Wayne Dyason, woordvoerder van die wetstoepassingsdepartement, het egter navrae na die polisie verwys. Die koerant wag nog op die polisie se terugvoering.
Die Stad is ook gevra of hy enige stappe oor probleemgeboue gaan doen. “Die Stad kan net reageer of stappe doen wanneer klagtes oor die gebou ontvang word. ’n Probleemgebou kan aangemeld by 107 vanaf ’n landlyn, of by 021 480 770 vanaf ’n selfoon,” sê Dyason.





