Kapt. Kevin Williams, hoof van kommunikasie by die Parow-polisiekantoor, gaan einde vandeesmaand vir die laaste maal vir diens aanmeld.
Hy sê sy geloof in die Here en sy betrokkenheid in die gemeenskap was twee groot bydraende faktore in sy jare lange loopbaan.
Williams, ’n pa van twee, het in 1984 by die Hoërskool Kensington in Kaapstad gematrikuleer.
“Ek was van plan om Bybelskool toe te gaan – van een skool na die ander, maar ek het besluit om dit nie te doen nie. Ek het nie ’n alternatief gehad nie, maar ek het geweet dat ek nie Bybelskool toe gaan nie,” sê hy.
Ná skool, in 1985, het hy by ’n oliemaatskappy aangesluit, waar hy twee vloere as teemaker bedien het. Dit was ook van korte duur.
“Ek het besluit ek soek iets beter; ek soek iets meer.”
Hy het ook by ’n pakhuis in Soutrivier gewerk en vir ’n rukkie doelloos en rigtingloos rondbeweeg. Hy het in September 1985 by die polisie aangesluit en 26 jaar lank by die Kensington-polisiekantoor gewerk.
Bedien sy gemeenskap
Williams self het sy grootwordjare in Factreton in Kensington deurgebring en sê dit was vir hom ’n voorreg om daar te kon dien.
“Ek was bevoorreg om in my tuisdorp my loopbaan voort te sit. Dit is ’n groter uitdaging. Dis altyd maklik om in ’n ander gebied te werk, maar ek het dit beskou as ’n opdrag en het besluit daar gaan ek my mense dien, tot die beste van my vermoë.”
Hy het uitgeblink – net deur middel van sy dienslewering, sê hy.
“Ek het teruggegaan na die skole waar ek op skool was. Ek het kinders uit die agtergeblewe gemeenskap gemotiveer om ’n verskil te maak, maar eers moes ek die verskil word.
“Ek was oortuig dat ek geroep is om as ’n lig in die duisternis te beweeg. Ek wou alle skole, prinsipale en onderwysers laat weet dat hulle op my kon staatmaak.”
Hy is as tussenganger tussen die polisie en die gemeenskap aangestel.
“Daardie geleentheid het ek met albei hande aangegryp. Vir my was dit belangrik om elke prinsipaal, skoolsekretaresse, sport-instansies en geloofsorganisasies te ken.
“Ek het my moue opgerol as polisiebeampte en met die opbou van die gemeenskap gehelp. Die herbou van ons gemeenskap en sy mense was vir my belangrik. Ek het ook besef dit is ’n deurlopende taak.”
In 2011 is hy tot die rang van luitenant bevorder.
“Dit was spesiaal, want ek het nie daarvoor aansoek gedoen nie. Dit was die Here wat my bevorder het.”
Hy het op 4 September 2011 ook by die Parow-polisiekantoor aangesluit, waar hy as hoof van korporatiewe kommunikasie aangestel is.
Terugslae
Williams, ’n pastoor by die Atlantis-kerk van die Nasareners, het ook oor die jare terugslae beleef. In 2019 is bloedkanker by hom gediagnoseer. Hy het behandeling ontvang en goed herstel. Hy het vroeër gesê dit is deur sy geloof in Christus dat hy sy stryd teen dié siekte kon oorwin. Hy het oor ’n tydperk van 10 maande tydens sy behandeling altesame 31 kg verloor. In Maart 2020 is hy kankervry verklaar.
“Ek beëindig my diens, want ek het 60-jarige ouderdom bereik en in die polisie moet jy op dié ouderdom aftree. My 38 jaar diens is slegs deur Christus moontlik gemaak.”
Williams het al die beamptes met wie hy oor die jare gewerk het, bedank.
Sy laaste dag is op Vrydag 29 September. “Ek het dit baie geniet in die polisie.”
Hy het nog geen konkrete aftreeplanne nie, maar sê hy gaan Limpopo en Gauteng saam met sy vrou verken, sy doktorsgraad afhandel en rus.
Hy beplan ook om by die polisie en gemeenskap betrokke te bly.
“Ek groet dit waarvoor ek lief is. Dit wat ek met trots gehandhaaf het, die uniform. Ek lê die tuig neer,” sê hy.


