’n Lid van die Volle Evangelie Kerk Lewende Woord in Parow beplan om einde vanjaar vier marathon-padwedlope in vier dae te draf ten bate van kanker-behandeling.
Adri Theron (60), ’n atleet, hoop om deur middel van sy geldinsamelingsprojek, GivenGain, geld in te samel vir die Childhood Cancer Foundation South Africa (CHOC), ’n organisasie sonder winsbejag wat na aan sy hart lê.
Bloedkanker is in 1988 by Theron se seun, Sven, gediagnoseer. “Nadat hy sewe maande in die hospitaal was, is hy ontslaan, maar moes steeds behandeling vir vyf jaar ontvang. Ons het na Vredenburg verhuis, waar ek by die Militêre Akademie in Saldanha gestudeer het. Ongelukkig het Sven se toestand verder agteruit gegaan en is hy op 12 Junie 1989 oorlede,” sê Theron.
Sven, of Svennie soos hy deur sy ouers genoem is, was die egpaar se tweede oudste seun.
Theron beplan nou om in Desember vier marathon-padwedlope oor vier dae te draf ten bate van CHOC, wat pasiënte soos Sven help.
“Vroeër vanjaar het ek die Here gevra om my ’n manier te wys hoe ek my draf kan laat tel. Ná vele gebede en oorweging was CHOC die natuurlike keuse.”
Daar word gemik na R1 miljoen
Hy daag ander ook uit om by die poging betrokke te raak om minstens R1 miljoen in te samel vir die behandeling vir kinders soos Svennie.
“Godsgenade sal ek vier marathon-padwedlope oor vier dae, in vier dorpe en in twee lande hardloop – by die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad, Vredenburg, Keetmanshoop en Swakopmund in Namibië. Svennie is in Grootfontein in Namibië gebore.
“Die wedlope begin op 15 Desember en sal tot 18 Desember in Swakopmund duur.
“Die projek word gedryf deur GivenGain en staan as Sven Run for CHOC bekend,” sê Theron.
Om skenkings te maak, besoek Givengain.com en soek vir Adri Theron. Lede van die publiek kan ook ’n WhatsApp-boodskap na 082 924 3657 stuur en dié skakel versoek. Die publiek kan ook sy voorbereiding op Facebook volg waar Theron die dae reeds begin aftel het. Daar is nog 58 dae oor voor sy epiese tog.
Die eerste padwedloop is op 15 Desember (Rooi Kruis-kinderhospitaal); 16 Desember (Vredenburg); 17 Desember Keetmanshoop en 18 Desember (Swakopmund). In die vier dae sal hy altesame 168,8 km draf.
Daar word ook beplan om by van die bestemmings ’n 5 km pretdraf- of stap te hou. Theron probeer ook om Bybels vir kinders in te samel, wat hy by elke wedloop wil skenk.