Surita Visser (middel) is hier saam met van die kinders na wie sy omsien. Voor van links is Janke Snyman, Liah Smidt, Olivia Lourens, Phoebe Ekermans en Lily Martin. Agter is Jano Mostert, Miké van Zyl, Ryan Westraad, Veronica van Wyk, Keezia Consul en Leandra Visser. FOTO: Richard Roberts


’n Inwoner van Fairfield Estate in Parow, Surita Visser (69), het besluit dat sy ná 48 jaar haar beroep as kinderoppasser vaarwel gaan roep.

Visser was maar net 21 jaar oud toe sy in dié rol ingestap het. “Dit is ’n lang tyd,” sê sy.

Sy maak einde vanjaar klaar, sê sy. Sy het haar loopbaan, waarom sy dit gekies het, en ook ervaring verlede week met TygerBurger gedeel.

Visser en haar man, Frik, woon jare lank in Fairfield Estate in Parow.

“Ek het getrou met my man en ons kind is gebore. Hy wou nie hê ek moet werk nie, maar ek moes iets doen vir ’n inkomste en so het ek na kinders begin kyk. En ek kyk tot nou nog na kinders,” sê sy.

Baie van die kinders na wie sy destyds omgesien het, is vandag reeds getroud met hul eie kinders.

Nie vir inkomste

“Ek het dit geniet. Ek het gewerk vir ’n inkomste, maar dit gaan nie vir my oor die geld nie; die kind kom altyd eerste. Daar is mense wat kyk na kinders vir die geld, maar nie ek nie.

“Ek wil nie ophou nie, maar my kinders wil hê ek moet. Maar as jy by 70 jaar trek, dan moet jy seker ophou,” skerts sy.

Sy sê die 48 jaar was ’n bitter lang tyd.

“Ek het oor die jare na al my skoonsuster aan Frik se kant, en ons seun se kinders gekyk. Ek het hulle almal grootgemaak; hulle kom almal nog na my toe.

“Hier in die straat woon ook ’n vrou na wie se kinders ek gekyk het. Haar dogter sê sy wil net weer na my toe kom, want hulle wil hê ek moet vir hulle lasagne maak.

“Die kind werk al, maar sy wil net hê ek moet kos maak,” lag sy.

Visser sê dit wat sy gedoen het, het sy baie geniet.

“Ek het eers begin met voldag na kinders omsien, met babas, want my kind was toe ook nog ’n baba. Baie van my vriende en ander mense wat van my gehoor het, het hul babas na my toe gebring.

“Ek het opgegee, want om na ’n baba te kyk, kan jy nie net verwag om droog te maak en bottel te gee nie; daai kind benodig aandag.”

Sy het toe na skoolkinders begin omsien.

“Ek is hartseer om hulle te los, maar jy raak ouer, nie jonger nie,” sê Visser.

You need to be Logged In to leave a comment.