Spruitpark, ’n relatief groot openbare park aangrensend aan die Laerskool Mikro, mag per geleentheid as bykomende parkeerruimte ingespan word, het die Stad Kaapstad se departement van ontspanning en parke bevestig.
TygerBurger het navraag gedoen nadat ’n inwoner kommer uitgespreek het omdat “die park onnodig verniel word”.
Die inwoner, wat al sedert 2015 in Verreweidestraat woon, sê die park was eens geslote vir voertuie, maar aangesien die versperrings (paaltjies) tussen Verreweidestraat en die kanaal nie meer in plek is nie, kan voertuie al geruime tyd vanuit Hoopstraat vrylik toegang verkry.
Die park se naam- en kennisgewingborde, wat verouderd (dit lees nog Oostenberg-munisipaliteit) en swak sigbaar is, dui aan dat onder meer voertuie, motorfietse en fietse in die park verbode is.
Die inwoner sê daar word elke nou en dan sokker gespeel in die park (die bord wys geen balsport) en die spelers verlig blykbaar hul nood teen die inwoners se grensmure. Hy het ook al gesien dat daar drank vanuit koelhouers in voertuie gebruik word en dat daar sake bedryf word in die park – onder meer deur ’n honde-afrigter.
Volgens die inwoner het wetstoepassers nog nooit iemand uitgestuur wanneer hy oortredings in die park by die Stad aangemeld het nie. “Ek kry ’n SMS met ’n verwysingsnommer, en dan net later weer een wat sê dit is ‘opgelos’.”
Hy het ook beweer die wykraadslid het “toestemming aan die skool gegee” sodat die park as parkeerplek gebruik kan word.
TygerBurger het ’n navraag hieroor aan die subraad gestuur, wat na Wouter de Vos, wykraadslid aangestuur is, sowel as aan die Stad Kaapstad, oor wat toelaatbaar is, of toestemming aan die skool verleen is om die park vir parkering te gebruik, en of die versperrings en die verouderde borde vervang gaan word.
Minder ontwrigting
De Vos sê die Laerskool Mikro, sowel as Little Earth-kleuterskool, het aansoek gedoen om die park gedurende die jaar by enkele spesifieke geleenthede waar baie besoekers verwag word, as bykomende parkering te gebruik.
“Ek het inderdaad aangedui dat ek geen beswaar sou hê teen die toestaan van sodanige toestemming deur die parke-afdeling nie – onderworpe aan baie streng voorwaardes.
De Vos sê die groter geheelbeeld wat in gedagte gehou moet word, is dat die Laerskool Mikro deur woonbuurte omring word.
“Dit is onafwendbaar dat ’n skool sportdae en ander geleenthede sal aanbied. In die verlede het sulke geleenthede dikwels gelei tot groot ontwrigting en frustrasie vir omliggende inwoners, aangesien straatparkering in die omgewing redelik beperk is en voertuie dan soms op ’n wyse geparkeer is wat negatief ingewerk het op, of steurend is vir die inwoners van die gebied se bewegings.
“Dit is met hierdie aspek in gedagte dat Mikro aansoek gedoen het om die gebruik van Spruitpark as parkeerruimte in gevalle waar hoë besoekersvolumes verwag word, ten einde ’n alternatiewe reëling in plek te stel wat ontwrigting vir omliggende inwoners tot ’n minimum sal beperk.
“Na my mening is dit ’n bedagsame gebaar en navolgenswaardige voorbeeld wat die skool hierdeur teenoor sy direkte bure betoon. Derhalwe het ek my ondersteuning aan hul aansoek gegee aangesien dit gemik is op die welstand van die groter gemeenskap rondom die skool,” sê De Vos.
Die Stad se departement ontspanning en parke het bevestig dat die skool via die subraad en wykraadslid ’n versoek gerig het vir die gebruik van die park per geleentheid.
Volgens die Stad word die versoeke (vir gebruik van ’n openbare park) oorweeg in die lig van die aard van die versoek en die beskikbare ruimte in die park.
“Inwoners kan navraag doen deur uit te reik na hul plaaslike subraadkantoor, wat dan met die departement sal skakel om die nodige toestemming te verkry.”
Die Stad het tans geen planne om die versperrings of paaltjies weer op te rig nie “aangesien dit verwyder is om toegang aan instandhoudingsvoertuie te verleen,” maar het bevestig dat die kennisgewingborde in die park vervang sal word.
De Vos raai inwoners aan om die Stad se nooddiens-inbelsentrum te skakel sou hulle iets opmerk wat hulle voel onreëlmatig of onwettig is.
“Daar moet egter in gedagte gehou word dat ’n klagte soos ’n ongeluk met beserings wat die verkeersvloei ontwrig, voorrang gaan geniet bo kinders wat in ’n park sokker speel.
“Parke is openbare ruimtes wat aan die hele gemeenskap behoort, nie aan enige individu of groepie nie,” sê De Vos.
Skakel die Stad se nooddiens-inbelsentrum by 021 480 7700 (van ’n selfoon) of 107 (landlyn) met besonderhede om enige onwettige aktiwiteite aan te meld.