Die polisie in Parow het pas bevestig dat hul speurders ‘n voorval ondersoek waarin ‘n inwoner van Panorama gisteraand vermoor is.
Kapt. Kevin Williams, polisiewoordvoerder, sê die slagoffer is na bewering voor ‘n huis in Panorama doodgeskiet.
Hy sê die oorledene was glo in die taxi-bedryf.
“Die slagoffer is verskeie kere geskiet. Hy was ten tyde van die voorval in sy voertuig voor ‘n huis,” sê Williams.
Die Plattekloof, Welgelegen, Panorama en Kleinbosch-buurtwag (PWP) se Terry Swart het ook die skietvoorval, wat in Drostdystraat, Panorama, gebeur het, bevestig.
“Ongelukkig, omdat dit nog ondersoek word, word alle versoeke vir bykomende inligting na die Parow-polisise verwys,” sê Swart.
Pierre Gouws van District Watch-sekuriteitsmaatskappy sê volgens inligting wat deur een van hul beamptes oorgedra is, het die voorval kort voor 20:00 plaasgevind.
Die betrokke beampte het glo verskeie skote, wat soos outomatiese geweerskote geklink het, gehoor terwyl hy in die nabygeleë Rembrandtsingel by die NG kerk Parow-Panorama geparkeer was.
Tussen vier en vyf skote is glo afgevuur.
Die beampte het hom tot by die toneel in Drostdystraat gehaas waar ander sekuriteitswagte en omstanders reeds op die toneel was. Die toneel is afgesper waarna dit aan die polisie oorhandig is.
District Watch bevestig dat die man ‘n inwoner was. Die slagoffer is op die toneel dood verklaar. Gouws sê die skieter het na bewering die slagoffer agtervolg.
“Hy het glo vanuit ‘n agterste sitplek op die slagoffer geskiet, daarom was daar slegs een patroondoppie op die toneel,” sê Gouws.
Deon Maneveld, voorsitter van die Parow-gemeenskapspolisiëringforum (GPF), het ook die aanval bevestig en genoem dat die slagoffer glo ‘n taxi-baas was.
Williams sê die slagoffer moet nog uitgeken word.


