Paniek oor Stellenberg-leerder se ‘amperse ontvoering’

Grootskaalse paniek heers by talle ouers in Durbanville en Bellville nadat ’n gerug versprei het dat ’n leerder glo amper Woensdag ontvoer is. Die kind se ouers sê egter hulle […]


Grootskaalse paniek heers by talle ouers in Durbanville en
Bellville nadat ’n gerug versprei het dat ’n leerder glo amper Woensdag ontvoer
is.

Die kind se ouers sê egter hulle glo dit was dalk eerder ’n
poging tot roof en weet nie hoe hierdie gerug begin versprei het nie.

Die Gr. 10-leerder aan Hoërskool Stellenberg het
Woensdagmiddag huis toe gestap toe die insident gebeur het, vertel sy pa, wat
anoniem wil bly om sy seun se identiteit te beskerm.

“Daar het ’n bakkie langs hom gestop en ’n man het vir hom gesê
‘kom hierso’, toe klim daar twee ouens uit.”

Die leerder, wat in Chanteclerstraat was, het onveilig
gevoel en dadelik deur Edmond Rostandweg na ’n nabye parkie gehardloop.

Hy is ongedeerd, maar getraumatiseerd deur die voorval, sê
sy pa.

Die seun loop nie gewoonlik huis toe nie, maar op die
betrokke dag was sy pa in ’n vergadering en sy ma oppad skool toe, toe hy sê hy
sal solank loop.

Gerugte van ’n moontlike ontvoering het byna dadelik soos ’n
veldbrand versprei.

“Nie ek of my vrou het ooit die woord ‘ontvoer’ gebruik
nie,” vertel die pa. “Ek weet nie waar dit vandaan kom nie. Ek voel dit was
dalk eerder ’n geval dat hulle sy selfoon wou steel.”

In ’n stemboodskap wat wyd versprei is, sê ’n die stem van
’n oënskynlike mansonderwyser aan ene Michelle: “Wat betref die kind wat amper
ontvoer is, dit is so, ek het met die ma gepraat. Hy was baie gelukkig om weg
te kom. So ons gaan dit versprei onder die skool ook. Maar ons sal dit op ’n
sensitiewe manier doen.”

Theo Boonzaaier, Hoërskool Stellenberg se skoolhoof, wou nie
kommentaar lewer nie.

Lt. Kol. Marius Swanepoel, woordvoerder van die
Durbanville–polisiekantoor, het bevestig daar is nie ’n klag by die kantoor
aanhangig gemaak nie.

Die Laerskool Eversdal het ouers in ’n omsendbrief gevra om
kalm te bly en verseker hulle sal ingelig word indien daar ’n insident by hulle
plaasvind. “Ons het geen amptelike inligting vanaf die Hoërskool Stellenberg
ontvang nie.” Hulle het ook ontken dat ‘n kind van Laerskool Eversdal ontvoer is.

In die brief het hulle die skool se opgeskerpte veiligheidsmaatreëls uitgestippel. Ander
hoërskole, ook in Bellville, het hul leerders gewaarsku om versigtig te wees as
hulle huis toe stap.

Alet du Preez, die Stellenberg-buurtwag se voorsitter het ’n
beroep gedoen op kinders om “wawyd wakker” te wees. “Moenie alleen loop nie.”

Die Durbanville-polisie het verwys na ’n berig deur The
Citizen wat die volgende veiligheidsmaatreëls gee:

1) Leer jou kinders om weg van gevaar te hardloop.

2) Moenie dat jou kinders alleen iewers heen gaan nie.

3) Weet te alle tye waar jou kinders is en saam met wie.

4) Praat openlik met jou kinders oor veiligheid.

You need to be Logged In to leave a comment.