Dit blyk ’n prokureur wat op Dinsdag 4 Junie by die Kuilsrivier-landdroshof met dagga en Mandrax in sy besit betrap is, het al voorheen na bewering dieselfde streke uitgehaal.
Die prokureur wat by die hof was om ’n kliënt te verteenwoordig, het twee verdagte pakkies, toegedraai in kleefplastiek, by hom gehad.
AO Liesel Beukes, plaaslike polisiewoordvoerder, het gesê ’n sekerheidswag by die hof se ingang het hom voorgekeer en ’n polisiebeampte aan diens by die hof se hulp gevra om ondersoek in te stel.
Die polisiebeampte het die verdagte pakkies in die teenwoordigheid van die wag en die verdagte oopgemaak en na bewering op 79 klein plastieksakkies met dagga en 100 Mandrax-tablette afgekom.
LEES | ‘Regsman’ by Kuilsrivier-landdroshof vasgetrek vir dwelms
Ayanda Lennox Pupa (41), ’n prokureur van Khayelitsha, het Donderdag 6 Junie op aanklag van besit van dwelms in die Kuilsrivier-landdroshof verskyn.
Die saak is tot 13 Junie uitgestel vir ’n borgtogaansoek. Eric Ntabazalila, Wes-Kaapse woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het gesê Pupa het gekies om self sy verdediging te behartig. Die staat gaan borgtog teenstaan.
Groen plastieksak
Dit blyk Pupa het minstens twee keer vantevore na bewering dwelms in howe probeer insmokkel.
Op 22 September 2021 is hy by die Bellville-streekhof in hegtenis geneem toe ’n groen plastieksak met 196 Mandrax-tablette en tik met ’n geraamde straatwaarde van R9 500 by hom gevind is.
Volgens ’n mediaverklaring van die polisie wou hy skynbaar die dwelms aan ’n beskuldigde in ’n hofsaak oorhandig.
LEES | Kry die nuutste uitgawe van jou TygerBurger hier
Hy is deur die landdros verskoon omdat hy dronk voorgekom het en die plastieksak is by hom opgemerk toe hy die hofsaal verlaat het.
Destyds is berig dat Pupa op R3 000 borgtog met voorwaardes vrygelaat is.
Op 15 Junie 2022 is Pupa weer aangekla toe hy blykbaar by die Wynberg-landdroshof ’n pakkie met 60 Mandrax-pille, vier pakkies tik, 20 pakkies kokaïen en twee pakkies dagga aan ’n beskuldigde in die hof oorhandig het.
Hy is toe op borgtog van R20 000 vrygelaat.


