Verskeie padwerke is tans aan die gang, wat daarop gemik is om verkeersdruk in die Kuilsrivier-omgewing te verlig. 

Die gedeelte van die Bottelarypad tussen Amandelweg en die Saxdownspad word tans met twee bane verbreed. Die verbreding behoort teen November vanjaar klaar te wees. 

Die eerste fase van die verlenging van Saxdownspad, vanaf Langverwachtpad tot by Van Riebeeckweg, het vroeër vanjaar begin. Die verlenging behoort teen die derde kwartaal volgende jaar afgehandel te wees as alles volgens plan verloop.

LEES | Lees die nuutste digitale weergawe van die TygerBurger hier

Rob Quintas, burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit, en ander senior amptenare van die Stad Kaapstad het verlede week kom kyk hoe die onderskeie projekte vorder.

Quintas sê hy is baie tevrede met die konstruksiewerk aan die suidelike gedeelte van die Bottelarypad, waar daar nou dubbelbane in albei rigtings, asook ’n skouergedeelte langs die pad, is.

Hy sê die verlenging aan Saxdownspad sal ’n belangrike skakel vorm om die Bottelarypad in die noorde met Van Riebeeckweg in die suide te verbind. Die pad sal ’n enkelbaan hê in albei rigtings met dubbelbane net by die kruisings – by Langverwachtpad en by Van Riebeeckweg.

Padwerke vind tans op weeksdae tussen 07:30 en 17:30 plaas, asook op Saterdae indien nodig.

“Ek wil ons padgebruikers vra om asseblief die padtekens te gehoorsaam en ’n langer reistyd in te reken terwyl die werk aan die gang is,”

sê Quintas.

Buiten die verbreding en verlenging van die paaie, sluit die verbeterings die volgende in: sypaadjies van 2,5 m wyd aan albei kante van die verbreedte gedeelte van Bottelarypad; die kontruksie van ’n fietsbaan langs Saxdownspad; die installering van nuwe verkeersligte waar Saxdownspad by Van Riebeeckweg aansluit;nuwe straatligte; en die installering van ’n nuwe groot stormwaterpyp langs Van Riebeeckweg tot by die kanaal in Dumasstraat. 

Amandelweg

Quintas het ook die padwerke in Amandelweg besoek wat sedert Oktober 2022 aan die gang is. Die werk behoort ook teen November vanjaar voltooi te wees.

Die pad het voorheen slegs dubbelbane van die Bottelarypad tot kort voor die brug oor die Bottelaryrivier gehad. Die dubbelbane is verleng tot by die Kerkstraat-kruising, wat van ’n vierrigting-stop na ’n sirkel verander is. 

Om die dubbelbane moontlik te maak, moes ’n tweede brug langs die ou een oor die rivier gebou word. 

‘‘Die Amandelweg-opknapwerk, wat nuwe nie-gemotoriseerde infrastruktuur insluit, is ontwerp om mobiliteit in hierdie vinniggroeiende woongebied te verbeter,” sê Quintas.

Die projek is deel van die Stad se strategie om verkeersdruk te verminder en daarop gemik om die verkeersvloei na die R300-snelweg te verbeter.

Quintas sê om verkeersdruk te takel is van kritieke belang vir die groeiende gemeenskappe van Kuilsrivier en Brackenfell. 

“Groot projekte soos hierdie is noodsaaklik om die groeiende verkeer in die gebied te kan hanteer. Ons waardeer inwoners se volgehoue ondersteuning en geduld terwyl ons besig is met hierdie verbeterings om Kaapstad aan die beweeg te hou,”

 sê Quintas. 

Die Amandelweg-projek sluit ook ’n aparte drie meter wye fietspad in wat van die Soneike-winkelsentrum tot by die sirkel in Langverwachtpad strek. 

You need to be Logged In to leave a comment.