Die lank verwagte padherstelwerk in Kruisweg en Jacarandalaan het verlede week amptelik begin.
Volgens die Stad Kaapstad se departement van stedelike vervoer het die opknappingswerk op Maandag 6 Oktober begin en word beoog om dit teen Vrydag 5 Desember af te handel, mits weer en ander onvoorsiene faktore dit toelaat.
In `n brief aan inwoners het die stad bevestig dat die werksaamhede weeksdae tussen 09:00 en 15:30 sal plaasvind, hoewel hierdie tye moontlik kan verander na gelang van omstandighede.
“Gedeeltes van die pad sal vir die publiek afgesluit wees, wat beteken dat verkeer in albei rigtings geraak sal word. Vlagpersoneel sal aanwesig wees om die verkeer te reël, aangesien werkgebiede duidelik afgebaken sal wees vir die veiligheid van beide voertuie en voetgangers,” meld die brief.
Die Stad doen `n beroep op alle padgebruikers om die sigbare aanwysings en padtekens tydens die werksperiode noukeurig te volg. Boonop word motoriste aangeraai om alternatiewe roetes te oorweeg, aangesien verhoogde verkeersopeenhopings in die gebied verwag word.
Die projek vorm deel van die stad se breër poging om infrastruktuur op te knap.


