Danie en Nella Lange, onderskeidelik 98 en 95 jaar oud, het op Maandag 7 April hul platinum-huweliksherdenking gevier ná 70 jaar bymekaar.
Die egpaar van Panorama weet nog presies wat om hulle aangaan, wat dit moontlik gemaak het om die dag met Aeltsje Kriel van Extra Mile uit te ry Blouberg toe.
“Die verliefde paartjie het vir die geleentheid saam aan hul gunsteling gesmul: Kalamari en slaptjips, en schnitzel,” deel Kriel.
By kerk ontmoet
Danie en Nella het destyds mekaar in Durban ontmoet by ‘n geselligheid wat deur die kerk vir jong werkendes aangebied is, terwyl hulle albei daar gewerk het.
Hy het in Januarie sy 98ste verjaarsdag gevier, terwyl Nella in Oktober 96 jaar oud word. Die egpaar sal na verwagting op 1 September na die George and Annie Starck Homes in Bellville verhuis.
Kriel vertel meer oor hul lewenslange liefdesverhaal: “Omrede Nella ‘n Namibiër was, is hulle in 1955 in Windhoek getroud. Oom Danie het van Rustenburg, in die ou Transvaal, gekom. Saam het hulle twee dogters en vier kleinkinders.”
Hul geheim is “baie baklei”, sê Danie grappenderwys, terwyl Nella egter ernstig volhou: “Daar is nie ‘n vaste resep nie. Wees lief en moenie baklei nie.”
Nella was ‘n maatskaplike werker en Danie was betrokke by die departement van maatskaplike dienste waar hy, onder meer, ook rampbestuur gedoen het tydens die Laingsburg-vloed en Tulbach-aardbewings.
Rustig en tevrede is die Langes dolgelukkig as hulle rustig buite kan sit, of sommer in die kamer radio kan luister.
“Vroeër jare het tannie Nella pragtig gebrei en oom Danie het graag sy koerant goed deurgelees, maar deesdae pla die oë,” voeg Kriel by.



