Toe Francheska Walker, ’n plaaslike raadslid in Leonsdale in Elsiesrivier, die oproep van ’n bekommerde ouma kry dat haar agtjarige kleinkind vermis word, het sy net verwag dat die kind êrens stokkies draai, nie dat hy bedwelmd sal wees nie.
Walker sê die ouma was bekommerd oor die kind en sy en ander gemeenskapswerkers het na die kind begin soek, maar kon hom nêrens opspoor nie.
Toe hulle later die dag in ’n ander gedeelte van Leonsdale werk het die gemeenskapswerkers die kind raakgesien.
“Hulle het probeer om met die kind te praat, maar ek het besef daar is iets fout met hom. Ons het hom na die Tehillah-sentrum geneem waar hy dwelmtoetse ondergaan het,” sê Walker.
Walker sê die hele aangeleentheid is baie hartseer.
Magda Kleyn, uitvoerende hoof van die sentrum, sê die uitslae van die dwelmtoetse het gewys die kind het drie verskillende soorte dwelms in sy liggaam.
“Dink jou net in wat daardie dwelms aan so ’n klein liggaam kan doen,” sê Kleyn.
Groot probleem
Op ’n vraag oor wat toe van die kind geword het, sê Kleyn hulle het die kind gewas en gevoed.
“Hy was so vuil. Later die dag het sy ma hom by die sentrum kom haal. Die omstandighede is ook nie goed by die huis nie, want die ma is ’n prostituut. Die kind bly by sy ouma, maar gee glo al ’n geruime tyd probleme by die huis en ek dink nie hy gaan meer skool toe nie,” sê Kleyn.
“Ek dink sy ouers, die regering en die hele stelsel het daardie kind gefaal,” sê Kleyn.
Sy sê hierdie is nie ’n geïsoleerde voorval nie.
Kleyn sê die dwelmprobleem onder kinders in Elsiesrivier is groot en dit sal ’n grootse poging van alle belanghebbendes in die gemeenskap verg om dit op te los. “Ons veg teen ’n oormag en almal moet saamwerkhande vat.”


