Oud van jare maar jonk van gees, het Jo Nap die afgelope Vrydag haar 100ste verjaarsdag by die Klaradyn-aftreeoord in Brackenfell gevier.
Sy is die eerste inwoner by die oord wat in sy 20 jaar-bestaan ’n driesyfer-ouderdom bereik, en sy is nie skugter om te sê sy mik nou vir 101 nie.
Sy het die spesiale dag geniet saam met haar twee dogters en lede van die oord se Klub-90 vir inwoners oor die ouderdom van 90 jaar.
Johanna Nap (néé Slegh) is in Naarden in Nederland op 12 Julie 1924 gebore. Sy was een van nege kinders – waarvan sy die oudste van vier dogters was, en vyf seuns.
Sy moes in standerd ses haar skoolloopbaan vaarwel roep toe haar ouers besluit het sy moet tuisbly om haar ma te help om kinders groot te maak.
LEES OOK: Covid-oorlewende word 100
Op 14 September 1948 is sy met Frans Jacob Nap getroud en het in die vroeë 1950’s saam met haar familie vanaf Nederland per skip na Suid-Afrika geëmigreer. Hulle het in Pretoria gevestig, waar hulle drie kinders, van wie twee dogters en een seun, gehad het.
Nap spog vandag ook met sewe kleinkinders en sewe agterkleinkinders. In 1984, 36 jaar nadat hulle in Suid-Afrika aangekom het, het hulle die binneland verruil vir Kommetjie, waar hulle die Kaapse berge, skoonheid en prag geniet het.
Klaradyn
Op die ouderdom van 80 het sy haar heenkome in Klaradyn gevind, waar sy oorkant ’n ietwat jonger vrou bly, wat op dieselfde skip saam met haar familie op pad was om in hul nuwe vaderland te vestig – in daardie stadium heeltemal onbewus van mekaar.
Sy moes ongelukkig jare gelede afskeid neem van haar man.
LEES OOK: Op en wakker op 100
Ander familie en vriende het op 29 Junie partytjie gehou om haar groot mylpaal te vier.


