Op 92-jarige ouderdom het Ester de Kock van Calvinia daarop aangedring om die ses uur lange reis na Bellville in die Kaap mee te maak om haar kruisie te gaan trek.
“Dit is seker die laaste keer dat ek sal kan stem, so stem sal ek stem, sodat alles net kan goed gaan in Suid-Afrika,” het sy Vrydagoggend aan TygerBurger gesê.
Ester het jare lank saam met haar dogter, Mariechen du Toit, en haar gesin in Loevenstein gebly, maar met haar man se dood drie jaar gelede het die familie na Calvinia in die Noord-Kaap verhuis waar Mariechen se man nou boer.
Hoewel die gesin geregistreer het om in Calvinia te stem, het Mariechen en Ester drie weke gelede ’n SMS-boodskap van die OVK ontvang waarin hulle ingelig is dat hul stemlokaal nog steeds by die Laerskool Boston is.
“Daar was glo een of ander onverklaarbare probleem met my en ouma se identiteitsdokumente wat nie geverifieer is nie, en dit was te laat om weer te registreer. My man kon egter in Calvinia stem,” sê Mariechen.
“Dis ’n lang pad Kaap toe met baie stoppe tussen-in, maar ouma se besluit was beslis. Sy wou gaan stem.”
Vyf honde
En so het hulle met hul vyf honde net so ná 12:00 in die pad geval om 19:00 voor die Laerskool Boston stil te hou.
“Daar was rye en rye. Maar OVK-amptenare het ons voertuig tussen die rye deur begelei tot by die voordeur, waar hulle vir ouma met haar loopraam uit die kar uit gehelp het tot by die stembus.
“Almal het uit die pad uit gestaan vir ouma om voor te kom. Die organisering was puik,” sê Mariechen.
Aangesien Ester sleg sien en nie meer goed kan hoor nie het sy ook hulp verlang by die stembus.
“Die twee amptenare het haar bygestaan. Vir die een het sy gesê vir wie sy stem en die ander een het die kruisie vir haar getrek. Hulle was bitter oulik en kry volpunte.”


