Ouma (90) nou ‘perdfris’

’n Ouma (90) van Monte Vista het onlangs haar vrees oorkom vir perde, wat sy jare gelede in Nederland ontwikkel het.


’n Ouma (90) van Monte Vista het onlangs haar vrees oorkom vir perde, wat sy jare gelede in Nederland ontwikkel het.

Wanneer ek daarlangs geloop het, het die perd altyd al snorkende en met skuim uit sy bek op my afgestorm
Grietjie de Jong

Grietjie de Jong het een dag saam met haar dogter en kleinseun gegaan toe hulle gaan perdry. “My ouma het toe by die perde gaan staan en dit het haar opgeval hoe liefdevol die kyk in die diere se oë is. Sy het toe besef dat perde nie almal so wild is nie en sy het begin om haar vrees te oorkom. ’n Paar dae later het sy gewonder of dit moontlik sal wees vir haar om op 90 nog perd te ry. Die eienaar van die perde is gekontak om uit te vind en haar reaksie was ‘natuurlik is dit moontlik’,” sê Sonja Innes, Grietjie se kleindogter.

De Jong se vrees vir perde het as jong kind in Nederland ontstaan. “Ek het op ’n klein plasie naby Waspik, Brabant in Nederland grootgeword. Op die buurplaas het hulle ’n perd gehad en al wat die perd geskei het van die plaas was ’n waterstroompie. Wanneer ek daarlangs geloop het, het die perd altyd al snorkende en met skuim uit sy bek op my afgestorm. Ek het altyd gedink hy kan maklik oor die sloot spring hoewel hy dit nooit gedoen het nie. Daar het my vrees vir perde begin,” sê De Jong.

De Jong het die dag by die perde vreeslik geniet en kon nie uitgepraat raak daaroor nie. “Ek het goed gevoel op die perd en nie verwag om so op my gemak te wees nie. Dit was vir my ’n groot oorwinning,” sê sy.
Vir De Jong se kleinkinders was haar perdryery nie ’n toeval nie, want sy het reeds die Tweede Wêreldoorlog oorleef.

“My ouma was tydens die uitbreek van die oorlog 14 jaar oud en die oorlog het aangehou tot sy 19 was. Sy sê altyd dat die oorlog haar lewe in twee verdeel het. As gesin moes hulle ’n paar keer, wanneer daar te erg geskiet is, vlug en langs die pad by vreemdes skuil. So het haar gesin een keer by ’n boer slaapplek gekry – bo in die stal tussen die hooi. Sy sê die mense van daardie tyd was baie behulpsaam, want almal was in dieselfde stryd om oorlewing gewikkel. Ná skool het sy werk gekry in die departement van binnelandse sake, ’n werk wat vir mans bestem was, maar omdat daar so min mans was – hulle was opgeroep vir oorlogvoering – het hulle my ouma aangestel. Sy moes omtrent 12 km aflê werk toe – eers per fiets (met tuinslang as buiteband) en later te voet aflê, en middae weer terug, soms in wintersneeu en soms met skietgevegte om haar. Sy het nooit weggebly nie.
Sy vertel hulle was nie toegelaat om na die radio te luister nie en dus was radio’s verbied. Duitse propaganda is wel verkondig en die nuus was altyd dat Duitsland besig is om op alle gebiede te wen. By haar huis het hulle onwettig ’n radio versteek en het hulle skelm na oorsese nuus geluister. So kon hulle hoor dat die Duitsers nie oral wen soos hulle wou voorgee nie. Omdat sy snelskrif magtig was, het sy dit neergeskryf en die volgende dag by die werk deurgegee. Daar het hulle alles aangeteken en die inligting agter ’n kalender in hul kantoor versteek.

So het hulle ’n beter prentjie gekry van wat regtig aan die gang was. Die straat waar hulle gebly het, was die eerste straat waar die Skotte heen is om almal te bevry. Die straat is destyds hernoem van Waspik Boven na Schotse Hooglander-straat,” sê Innes.
Ná hul troue het De Jong en haar man besluit om hulle in Suid-Afrika te kom vestig en sy het in Maart 1952 hier aangekom, ses maande ná haar man. Ná ’n paar jaar in Parow, het hulle op ’n erf in Monte Vista begin bou. Hulle het toe in September1957 ingetrek en woon steeds in dieselfde huis.

Innes sê haar ouma is die familie se held.
“Vandat ek kan onthou is my ouma Grietje ons held. Sy help altyd waar sy kan. Sy het altyd seker gemaak dat ons nie te kort skiet nie, sy praat altyd goed van almal, is ons familie se steunpillaar en ’n ongelooflike vrou.
“Sy kan altyd die oulikste stories vertel en kan jare en jare terug onthou tot op die dag en selfs wat iemand gedoen of aangehad het.
“My oupa was ’n sakeman en nie baie by die huis nie, so sy het vier kinders op haar eie groot gemaak,” sê Innes.
Ouma Grietjie het nie ’n wenslys nie, maar sy het onlangs vir haar agterkleinkind gesê sy wil nog graag leer swem …

You need to be Logged In to leave a comment.