Lede van die drukgroep Equal Education (EE) en ontevrede ouers het verlede Woensdag na die Metro-Oos-streekskantore van die Wes-Kaapse onderwysdepartement in Kuilsrivier opgeruk.
Die rede vir die protes was aldus ’n verklaring van EE om hul misnoeë te kenne te gee met “die oneffektiewe en frustrerende aansoekproses vir skole wat duisende leerders uit skool hou”.
Volgens EE is die publiek moeg om verskonings aan te hoor oor skole wat oorvol is of te veel aansoeke ontvang omdat daar nooit genoeg geld is om meer skole te bou nie.
Van die eise wat gemaak is, sluit in dat alle leerders wat nog nie plek gekry het nie, dadelik in skole geplaas moet word, en dat die departement alle skole van genoegsame en geskikte infrastruktuur moet voorsien.
Die polisie is ontbied toe van die betogers die gebou betree het.
David Maynier, Wes-Kaapse onderwysminister, het EE se optrede as teleurstellend beskryf. Hy het gesê die polisie se hulp is ingeroep nadat betogers hul weg tot binne die instapsentrum van die streekkantoor oopgedwing het en die werk van die amptenare tot stilstand gebring het.
David Solomons, operasionele bestuurder van Kuilsrivier-polisie het aan TygerBurger gesê dat hy self uit na die toneel is.
“Met my aankoms het ’n werknemer van die onderwysdepartement aan my gesê dat daar van die mense binne die gebou is. Daar was vyf persone binne. Ek het hulle gewaarsku dat dit ’n oortreding is en hulle gevra om uit te gaan. Hulle het toegestem en toe dadelik uitbeweeg.”
Solomons het geskat dat daar altesaam sowat 40 mense was wat aan die betoging deelgeneem het.
Maynier het gesê hul amptenare het bedreig gevoel deur die protesaksie en dat hulle nie ander ouers kon help tydens die protesaksie nie.
“Equal Education het voorheen verklaar hulle optree is in die beste belang van ons kinders.
“Hul optrede wys egter ’n gebrek aan respek vir ouers wat wag om aansoek te doen, sowel as die kinders wat graag skool toe wil gaan.”
Hy het gesê die amptenare het die protesterende ouers met hul navrae en aansoeke bygestaan.
“Ons is ingelig dat een van die protesterende ouers genoem het dat EE ouers wat by skole gestaan en wag het, genooi het en vervoer verskaf het om by die protesaksie aan te sluit, wat daartoe kon bygedra het dat bystand aan hulle verder vertraag is.
“Ons respekteer die reg op protes, maar dit moet wettiglik gedoen word sonder om aansoekprosesse te belemmer,” het Maynier gesê.


